Stormwaarskuwing vir Kaap uitgereik

Foto: pixabay.

Foto: pixabay.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Kapenaars Donderdag gewaarsku dat ʼn hewige storm en kouefront die stad binnekort gaan tref.

Volgens die weerdiens sal die kouefront gepaard gaan met swaar reën, stormsterk wind en onstuimige seetoestande. Plaaslike owerhede het motoriste aangeraai om eerder van die paaie af te bly.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die stad is gereed om enige lede van die publiek by te staan in noodtoestande. “Ons is al gekonfyt in rampbestuur,” het Smith gesê.

Volgens die SAWD sal die kouefront tot Vrydagoggend duur en meer as 50 mm reën word vir die stad voorspel. Kapenaars sal na verwagting Donderdagaand ʼn baie koue nag ervaar, met rowwe seetoestande Vrydag.

Smith het lede van die publiek daaraan herinner om seker te maak hul geute en afvoerpype is nie verstop nie en dat daar nie lae takke oor hul huise se dakke is nie. “Ons raai ook motoriste aan om van die paaie af te bly indien moontlik en indien hulle wel êrens heen moet ry, uiters versigtig te wees.”

Volgens Smith het die stad se rampbestuursentrum aangedui altesaam 134 114 inwoners en 34 843 strukture is vanjaar deur brande en ongure weerstoestande geraak. Die sentrum het maatskaplike verligting van ongeveer R24,5 miljoen in hierdie gevalle verskaf, wat komberse, kos, matrasse en pakkies sanitêre ware wat deur verskeie nie-regeringsorganisasies geskenk is, ingesluit het.

Smith het bygevoeg die stad het planne gereed om noodskuiling beskikbaar te stel indien nodig, maar gesê mense wat deur weerstoestande dakloos gelaat word, verkies meestal om by vriende of familie te bly. “Die publiek kan ons skakel by 107 op ʼn landlyn, of 021 480 7700 vanaf ʼn selfoon, om enige voorvalle wat met die weer verband hou, te rapporteer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Glenda ·

Oe tog dis weer inbreek tyd want die alarms lol altyd met die swaar weer.

Karma ·

Gelukkig bly ek in “Die Vetkol” (Worcester) – teen die tyd wat die koue front “Die Vetkol” bereik, het dit al meesal uitgereën – al wat ons kry is die helse wind (soos wat nou hier waai).

Alta ·

Is die korrekte spelling nie “koue front” nie? My gr.5-kind het dit vir ‘n speltoets geleer. Groetnis

Landi Slatter ·

Dagsê Alta,

Dankie vir jou navraag. Die sesde uitgawe van die HAT erken ‘kouefront’ en ‘koue front’.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Francois le Cochon ·

Niks lekkerder (wel amper niks) as om in stormweer by Seepunt in jou kar te sit en “take aways” eet, en kyk hoe die branders teen die rotse breek nie.

Francois le Cochon ·

@ Louise E. So se^ ek ook vir die mense wat naby die Kruger Wildtuin bly. Dit neem my 2 dae soontoe, en 2 dae terug.

Daan Erasmus ·

HALO. Het iemand al gehoor van die Groot Trek. 1838. Daar is plekke soos Die Vrystaat. Transvaal. Ons wil ook n voorspelling he. Asb.

Skerp ·

Lekker lag ek nou vir jou Daan Erasmus. Skerp baie skerp en baie waar ons wil ook weet wat aan gaan ivm weervoorspelling hier in ons stede die wind waai darem maar vreeslik erg hier by ons al vir vyf dae en ons bid vir reen sodat die stof gaan lê. Wanneer gaan ons reen val??

John ·

Daan, die weervoorspellers is nou almal Ingels. Daai plekke waarna jy verwys le verder weg… in die verlede. Die Hemelvader het ‘n goeie geheue. Hy onthou ook hulle wederstrewighede… Ons moet Hom bel….

Carina Rabie ·

Nou wanneer kom die verskriklike reën dan Paarl se kant toe? Dit het eers vanoggend na 4am begin reën en was voor 6 alweer klaar. My plaveisel is skaars nat. En dit was ‘n redelik warm nag, glad nie koud nie, en geen wind, hier roer nie eens ‘n blaar nie. Hier van nou so ‘n doutjie wat skaars die voorruit nat maak. Die stormweer was seker net in die Kaap.
Karma, het julle toe enige water in Worcester gekry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.