
Een van die voertuie wat die afgelope naweek deur stormwater in die Tshwane-metrogebied meegesleur is. (Foto: Tshwane-nooddienste)
Lede van die Tshwane-nooddienste moes ingryp in minstens drie voorvalle die afgelope naweek waarin voertuie deur stormwater in die metrogebied meegesleur is of vasgeval het.
Charles Mabaso, woordvoerder, sê twee voertuie is Vrydag – een omstreeks 21:30 en die ander kort na middernag – op die laagwaterbrug by die kruising van Rabie- en Endstraat in Centurion vasgekeer.
Volgens die nooddienste het die insittendes almal veilig uit die voertuie ontsnap.
Een van die voertuie is Saterdag herwin.
“ʼn Toyota Avanza is ook Vrydagaand by ʼn brug in Olievenhoutbosch meegesleur. Die insittendes het ongedeerd daarvan afgekom. Die voertuig is Saterdagoggend herwin,” sê Mabaso.
Mabaso het die nooddiens se oproep aan motoriste herhaal om nie oorstroomde laagwaterbrûe te probeer oorsteek nie, omdat dit lewensgevaarlik kan wees.
“Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aan die begin van die somer ʼn seisoen met hoër as normale reënval voorspel en ons doen ʼn beroep op inwoners om waaksaam te bly en weervoorspellings gereeld dop te hou.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Die rommel op die toneel lyk sleg…