Stormweer dié naweek verwag

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat stormweer dié naweek oor groot dele van die land verwag word.

In sommige gebiede kan dit gepaardgaan met hewige reënval, hael, skadelike stormsterk winde en kitsvloede.

Die weerdiens sê in ʼn verklaring die stormweer sal van vandag tot Sondag op verskillende plekke in die land voorkom. Dit sluit in die noordoostelike Vrystaat, weste van KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo. “Die risiko vir erge storms is die hoogste oor die Mpumalanga Hoëveld en die suide van Limpopo Vrydag, waarna dit Saterdag in ʼn westelike rigting sal versprei.”

Die weerdiens waarsku dat die stormweer sterk genoeg sal wees om informele strukture te beskadig. “Daar word dus aanbeveel dat ekstra voorsorg getref word wanneer tydelike strukture dié naweek opgerig word vir kieserregistrasiedoeleindes.”

Koel weer word Saterdag oor die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Hoëveld van Mpumalanga verwag, wat teen Sondag na verwagting na Gauteng en Limpopo sal versprei. Die res van die land kan sonnige weer te wagte wees met baie warm weer oor die sentrale en westelike gedeeltes van die land.

Die weerdiens het die volgende voorsorgmaatreëls aanbeveel vir mense wat die naweek in gebiede gaan wees wat deur die stormweer geraak word:

  • Bly binnenshuis en weg van die paaie indien moontlik en vermy dit om vol riviere of sterk waterstrome oor te steek.
  • Indien jou voertuig deur vloedwater meegesleur word, is dit meestal aanbevole om uit die voertuig en op hoër dele te kom.
  • Skuif waardevolle items in geboue tot bo die vloedwatervlak en skakel elektrisiteitstoevoer af by die voorsieningspunt in die gebou.
  • In plattelandse gebiede moet vee na ʼn veilige plek op hoë gebiede geneem word, verkieslik waar die diere beskut is teen die gure weer.
  • Moenie op paaie ry wat deur vloedwater bedek is nie, aangesien dit nie moontlik is om te bepaal hoe diep die water is en of die padoppervlak weggespoel het nie.
  • Gee gehoor aan alle opdragte van rampbestuurowerhede en hou die media dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Diefie ·

My pa het altyd gesê hou jou bek uit die weer, dan bly hy heel. Wel ek bestel nou reën vir al die drooggeteisterde gebiede.

Peet Schabort ·

Die grootste voorsorgmaatreël wat nie getref word deur veral munisipaliteite is die jaarlikse skoonmaak van stormwaterafvoerpype en bane. Ook is die publiek skuldig aan die strooi van rommel wat gepaardgaande met boomtakke bykans enige grootte pyp in ‘n ommesientjie verstop. Die plasing van betonversperrings tussen paaie word ook gedoen soos ‘n damwal wat dan water opgaar. Waarom daar nie spasies gelaat word vir water se deurvloei is nie verstaanbaar. Op paaie moet jy maar versigtig wees op die laagste punte (duike) want die kante van die pad het somtyds ‘n walletjie wat waterpoele veroorsaak en jy op ‘n skaatsbaan kan land met jou voertuig. Lg. is ook nie te krye in die nikswerd K53.

Wysneus ·

Wel wel wel, die natuur is onvoorspelbaar en kan n storm enige tyd enige plek losbars, se die Weerdiens niks dan dit ook nie reg nie? Nou hoe gemaak? Vra net?

CK ·

Is steeds jou keuse om die artikel te lees! So moeg vir snedige opmerkings onder die mense. As jy nie saamstem nie, moet dan nie die artikel oopmaak nie. Is die naskuurigheid so erg.

SêNet ·

Ek stem saam met jou CK. Ek kyk maar nog elke aand die weerberig en kyk elke oggend die weer op my foon en alhoewel die weervoorspelling sekere weer voorspel is dit nie gegewe nie. Die mens wik, maar God beskik. Ek hoop en bid vir reën by al die noodgeteisterde gebiede.

Hennie ·

Kom ons kyk maar wat gebeur reen dit reen dit reen dit nie dan reen dit nie

CarenC ·

@Hennie – ek dink jou weervoorspelling is meer akkuraat, die toeps op my selfoon het my al telke male teleur gestel ;-)

kasper ·

Wel, een ding wat definitief hierdie naweek gaan gebeur is braai.

Lou ·

@ Kasper Nou praat jy.
As dit storm dan braai ons maar op die gasbraai maar braai gaan ons braai.

Vonk Prop ·

My pa se woorde- 0ulike poppie wat die weer aanbied, maar magtig kan sy lieg.

wilma ·

So spoel ons gisteraand in Sinoville-omgewing amper weg a.g.v. die lieflike reën maar vanoggend is daar nie ‘n druppel water in die krane nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.