Stormweer op pad

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Suid-Afrikaners in groot dele van die land kan hulself regmaak vir stormweer wat met donderstorms, ontwrigtende reën, skadelike winde en selfs hael gepaard kan gaan.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Maandag ʼn oranje vlak 6-waarskuwing vir donderstorms en swaar reën vir Gauteng, die westelike dele van Mpumalanga se Hoëveld, die suidwestelike dele van Limpopo en die sentrale en oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat uitgereik.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir donderstorms en ontwrigtende reën is ook uitgereik vir die westelike en suidelike dele van Limpopo, die oostelike en sentrale dele van Mpumalanga, die noordelike dele van KwaZulu-Natal, en die Sentraal‑ en Klein-Karoo.

Verder word ook gewaarsku teen donderstorms, swaar reën en hael in die westelike dele van die Oos-Kaap. Die weerdiens het vir hierdie stormweer ʼn geel vlak 4-waarskuwing uitgereik.

Volgens die weerdiens kan die stormweer tot skade aan infrastruktuur en voertuie lei en gevaar vir vee inhou.

Die weerdiens waarsku inwoners om versigtig by laagliggende brûe te wees en geboue met swak infrastruktuur wat moontlik kan oorstroom.

“Motoriste word aangeraai om versigtig te bestuur weens die gure weer wat hul sig kan belemmer,” waarsku die weerdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.