Stormweer vir Kaap op pad

Kapenaars maak reg vir ‘n koue front wat die gebied binnekort tref. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) waarsku inwoners van die Wes- Oos- en Noord-Kaap om voorbereid te wees op ysige temperature, swaar reën, sneeu en stormsterkwinde.

Die weerdiens het Maandag gewaarsku ’n hewige kouefront gaan teen Donderdagmiddag die Wes-Kaap tref. Dit sal tot gevolg hê dat beduidende reënval en sneeu vir Vrydag en Saterdag vir die hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap, sowel as die suidelike gebiede van die Noord-Kaap en Lesotho verwag kan word.

Sterk noordwestelike winde van 60 tot 75 km/h gaan ook van Donderdagmiddag in die Kaapse metropool en Sentrale Karoo in die Wes-Kaap woed.

Lehlohonolo Thobela, ’n weervoorspeller by die SAW, het aan Maroela Media gesê swaar reën kan oor die naweek in die Kaapse metropool en Kaapse Wynlande verwag word. Swaar neerslae word ook vir die hoogliggende gebiede in die Kaapse Wynlande en Overberg voorspel.

Thobela sê die swaar reënval en kouefront gaan teen Saterdag na die oostelike kus beweeg.

“Teen Sondag gaan die reën begin opklaar en die temperature vir die provinsies begin normaliseer,” sê Thobela.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, gee die volgende wenke vir inwoners van dié provinsie om hul teen stormweer te staal:

  • Versterk strukture om jou huis om enige opgeboude ys en sneeu se bykomende gewig te kan dra.
  • As jy in die storm vasgevang word, soek skuiling in ’n onderdakparkeerarea, by ’n petrolstasie of onder ’n brug.
  • Wees ekstra versigtig wanneer jy langs die pad aftrek en gebruik jou noodwaarskuwingsligte.
  • Moenie onder bome parkeer nie – takke kan dalk afbreek en jou voertuig beskadig.
  • Draai ’n dik kombers om jou voertuig sodat jy dit oor die enjinkap kan gooi om haelskade te vermy.
  • As jy in ’n gebied bly wat gereeld oorspoel, is dit ’n goeie idee om sandsakke aan te skaf wat jy by jou ingange kan plaas om die water uit te hou.
  • Skakel jou gas en elektrisiteit af ten tyde van vloede.
  • Motoriste word aangeraai om nie deur oorstroomde gebiede te ry nie. Water wat 60 cm of dieper is, kan ʼn voertuig meesleur.
  • Moenie stop as jy te vinnig op ’n waterstortterrein afry nie. Haal eerder jou voet van die versnelpedaal af en laat die motor geleidelik spoed verloor. Moet nooit te skielik die rem trap nie. Jy kan beheer verloor oor die voertuig, en hy mag dalk begin gly.
  • As jy in jou voertuig is tydens ’n oorstroming, probeer liewer om uit die voertuig te kom en na hoërliggende gebiede toe te beweeg. Dit kan gevaarlik wees om deur die water te ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Twopence ·

Dankie vir die wenke. Ek het al die kombersding gedoen en geen haelskade aan my motor gehad nie waar die voertuie langs my erge skade gely het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.