Stormweer vir Kaap voorspel

Swaar reën word vir gedeeltes van die Wes-Kaap voorspel. (Argieffoto: pixabay)

Kapenaars kan regstaan vir stormweer wat van Woensdagaand in die streek verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens sê ʼn laedrukstelsel gaan van môreaand tot Donderdag wydverspreide buie en donderbuie, sterk wind en rowwe seetoestande meebring.

Swaar reënbuie word van Woensdagaand in veral die Overberg-streek, Tuinroetedistrik, dele van die Kaapse Wynland en Kaapse metropool verwag.

Tussen 30 mm en 50 mm reën word oornag voorspel, met die Overberg-streek wat tot soveel as 60 mm tot 100 mm in dieselfde tyd kan verwag.

Rowwe seetoestande weens die sterk wind word tussen Kaap Columbine en Stilbaai voorspel en sterk wind kan lei tot golwe van tussen 4 m en 5,5 m.

Die weerdiens waarsku dat bote moontlik moeilik in die omstandighede kan koers hou en daar is ʼn verhoogde gevaar tydens bedrywighede soos rotsvisvang.

Die weerdiens sê hy neem ook kennis van ʼn Facebook-boodskap – wat nie deur die weerdiens uitgestuur is nie – wat groot paniek onder mense veroorsaak.

“ʼn Sterk suidoostewind oor die suidwestelike gedeelte van die Wes-Kaap word gewoonlik verbind met mooiweer. Soms kan die bykomende teenwoordigheid van ʼn laedrukstelsel – soos in dié geval – moontlik lei tot ʼn koel, vogtige suidoostewind wat in die volksmond bekend staan as ʼn swart suidooster.”

Die weerdiens sê die ontwikkeling van ʼn swart suidoostewind, oftewel die Kaapse Dokter, is heeltemal moontlik, gegewe die verwagte sirkulasiepatroon, maar dat mense nie bekommerd moet wees oor “sensasionele mediaberigte” op sosialemediaplatforms nie.

Die weerdiens sê hy hou die weerstelsel dop en sal verdere bywerkings gee indien nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Premier Winde kan nou ontspan. Die Kaapse Dokter sal al die virusse wegwaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.