Storting van mediese afval, dierkarkasse wek kommer

Chris Boshoff en Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum vroeër vanjaar tydens die bekendstelling van die projek by die Hatherley-storting. Foto: AfriForum

Chris Boshoff en Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum vroeër vanjaar tydens die bekendstelling van die projek by die Hatherley-storting. Foto: AfriForum

AfriForum het Donderdag sy ouditverslag oor stortingsterreine bekend gestel en in Pretoria aan Nosipho Ngcaba, direkteur-generaal van die departement omgewingsake en Mark Gordon, adjunk direkteur-generaal vir chemiese stowwe en afvalbestuur by die departement, oorhandig.

Hulle het die verslag namens minister Edna Molewa, minister van omgewingsake, ontvang en onderneem om binne 30 dae terugvoer te gee. Die burgerregte-organisasie het in Junie en Julie vanjaar sommige stortingsterreine geoudit en ʼn verslag saamgestel.

Volgens wetgewing en regulasies moet ʼn stortingsterrein aan bepaalde vereistes voldoen. AfriForum het hierdie vereistes in 25 vrae verwerk en dit gebruik om die oudit te doen.

Volgens Chris Boshoff, projekkoördineerder, toon die bevindinge in die verslag slegs 18% (15 uit 83) van die stortingsterreine wat geoudit is, het aan die minimum vereistes van die wetgewing voldoen. “By 82% van dié stortingsterreine moet spoedig ingegryp word om gesondheidsprobleme in omliggende gemeenskappe te verhoed,” het hy gesê.

Boshoff sê die volgende kommerwekkende kwessies is by verskeie stortingsterreine gevind:

  • Onwettige mediese afval word daar gestort, wat ondergrondse water kan besoedel.
  • Gesinne met kinders woon op sommige van die terreine.
  • Diere wei op stortingsterreine en eet van die afval.
  • Dierkarkasse word onwettig gestort en word nie begrawe soos die regulasie vereis nie.
  • Rehabilitasie en kompaksie word swak gedoen en vullis waai rond besoedel die omliggende omgewing.

Boshoff het gesê AfriForum het, as deel van dié projek, oudits gedoen by drie stortingsterreine wat privaat bestuur word. “Twee van die terreine het 100% aan die regulasies voldoen, terwyl die derde ʼn persentasie van 76% behaal het, teenoor staatsbeheerde stortingsterreine wat ʼn gemiddeld van 44,3% tydens die oudit gekry het.”

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake by AfriForum, meen die skokkende stand van staatsbeheerde stortingsterreine in Suid-Afrika kan toegeskryf word aan swak bestuur, korrupsie en gebrekkige opleiding van munisipale amptenare en werkers. “Stortingsterreine het in wese baie potensiaal, solank die regering net ʼn wilsbesluit neem om die infrastruktuur volhoubaar te maak vir herwinning en hergebruik,” het Pawson gesê.

“AfriForum het reeds aanmaningsbriewe gestuur aan al die munisipaliteite waar stortingsterreine nie aan die minimum vereistes voldoen nie en aangedring dat die munisipaliteite vir ons die aksieplanne stuur wat hulle gaan volg om stortingsterreine weer op standaard te kry. Indien die munisipaliteite nie hieraan gehoor gee nie, sal AfriForum die gemeenskap bystaan om, waar moontlik, self die stortingsterreine te rehabiliteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lance ·

Verbaas my gladnie ….pta en omliggend le oral vrot van rommel wat onwettig gedump word ….het al n foto geneem van n ou en ingestuur na die stadsraad ….nes ek gedink het die mense wat daar werk is te damn sleg om iets te doen …hoop maar die DA kan die ding omdraai want ek sien mense gooi somme in die ry enige iets by die venster uit …van plastiek papier bottels en verdomde stompies …wat n vieslike gewoonte en walglike voorbeeld !

poot ·

Lance
Ek stem volkome saam met jou. Om nie eers te praat van hoe die Moot se spruitjies wat eens die trots van die omgewing was en die Apies rivier lyk van die rommel nie.

M A ·

Wat by my kommer wek, is die foto van die man wat mediese afval met sy kaal hande optel.

Karma ·

@M A – ja, hy tel die afval (lyk soos ‘n leë bloedsakkie) met sy kaal hande op, maar ‘so what’? Daar is darem seker iets soos handsteriliseerder wat hy agterna kan gebruik? Hierdie is tipies die toestand wat alles in die land aanbetref: gee dit vir die ANC-regering en dit val uitmekaar na enkele sekondes; plaas dit in privaat beheer en dit floreer!

bobbo ·

Ons bly in Eldoraigne, in Sunderland Ridge is ‘n stortingsterein waar zimbabwers bly en as die wind na ons kant toe waai is die stank ondraaglik. Ons was self daar en dis om van NAAR te raak!! Is daar ‘n beter woord vir haglik?? Derms en ingewande van diere le en bak in die son.

JC ·

Op die foto. Die ou wat die mediese afval met sy kaal hande optel sonder beskerming.

Johanna Botha ·

Bobbo het julle dit al aangemeld my die stadsraad ? ..dit klink of al die wiele afkom in die Centurion area. Het vir familie daar gaan kuier en ek moet se Centurion is agterlik en vuil. Oral waar ons gery het …die taxi area naby die mall is so vuil en onooglik met mense daar in en deur die rommel asof dit niks is . Dat mense nie siek raak nie en dit terwyl mense daar slaap onder plastiese skuilings. Ook grootskaalse plastiese herwinning langs die Hennops revier met vure wat in die aande daar brand om nie eers te praat van die ondraaglike reuke. Die revier is VOL plastiese sakke aan bome en takke en die stank sal jy nie glo nie ! …moet se die Kaap ken regtig nie dit nie.

John ·

As mens 1 rot sien, is daar 500 wat ongesiens hul gang gaan. Pes begin so. Maar leer ons ooit? Tydens die sg Swart Dood is mense wat aangesteek het glo binne 2 dae dood. Die siekte het versprei omdat mense in ontkenning gebly het of aangehou het om dwaas op te tree… ‘Human rights’ het gedy… Rommel en lui is bloedbroers… Hul groot boerdery heet… Begraaf-plaas.

Jean ·

Roer hulle, die NSPCA en SPCAS gooi ook duisende diere ‘n week daar weg op die terreine, buiten dat dit vreeslik lyk om troeteldiere op ‘n dump dood te sien le,soms nog met hulle ou jassies aan, is daar mense en ander diere wat op daardie terreine ‘n lewe probeer maak .. hulle se hulle het nie geld nie, maar hoekom word hulle toegelaat om die regulasies te oortree? BEBOET hulle vir ‘n slag … hulle kry genoeg donasies om na diere om te sien, maar gee hulle die genadedood na 7 dae net om hulle op vullishope te gaan stort. Hulle moet die regte ding doen. Nobody is above the law.

Karma ·

@Jean …. ek weet daar is sekere SPCA’s wat wel diere se karkasse op die ashope gaan weggooi en dit is vir my só ‘n hartseer saak! Maar regverdig-gesproke, die SPCA’s sit nie diere net na 7 dae uit nie – dit is ‘n misopvatting wat baie mense het – hulle moet volgens wet ‘n minimum periode van 14 dae hou voor hulle die besluit neem om uit te sit. Ons plaaslike munisipaliteit het onder plaaslike munisipale regulasies die besluit geneem om GEEN dierekarkasse op die stortingsterrein toe te laat nie. Alle diere word dus deur ‘n verassingsdiens op die dorp veras. Die stortingsterrein word ook gepatrolleer en alle vragte wat ingaan, word gekontroleer om toe te sien dat daar geen ombehoorlike inhoud gestort word nie. Nou moet ek ook sê ek bly in die Wes-Kaap en in een van die grootste dorpe in die Boland (met ‘n DA-regering).

poot ·

Hierdie land het in 22 jaar so agteruit gegaan. Wat gaan dit vat om hom weer te kry waar hy was?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.