Stotterende begin vir SA se nuwe uitsaaiplanne

Nomvula Mokonyane. Foto: GCIS

Die minister van kommunikasie, Nomvula Mokonyane, se veelbewoë planne vir ’n nuwe uitsaaibedeling het vanoggend ’n bra stotterende begin beleef toe sy dit by ’n mediakonferensie bekend gestel het.

Sy was oudergewoonte meer as ’n halfuur laat vir haar eie geleentheid en het toe ’n relaas van die geskiedenis en ’n klomp vae toekomsverwagtinge uiteengesit, met die enigste ferm aankondiging dat analoog-televisieseine in die Vrystaat na verwagting eersdaags ten einde loop en dat Vrystaters dus moet gou spring om vir subsidies aansoek te doen as hulle gevolglik digitale dekodeerders vir hul televisiestelle benodig. Meer besonderhede sal volg.

Mokonyane het in Mei tydens haar begrotingstoespraak in die parlement aangekondig dat die regering se uitsaaibeleid hersien sal word. Dit volg nadat beplande uitsaaiwetgewing in 2009 teruggetrek is en ’n groenskrif in 2014 vrygestel is.

Die regering gaan eerstens aandag gee aan die herstrukturering van die SAUK, met die klem op die volgende:

* Die logika daarvan om ’n drievlak-uitsaaistelsel in plek te hou, aangesien die reguleerder nie die vermoë het om dit te reguleer nie;

* Eienaarskapkwessies te midde van ’n stram beleggingsklimaat;

* Die beperkte vermoë van die reguleerder;

* Die versterking van die SAUK;

* Die voortgesette uitsending van SAUK-kanale deur inskrywings-uitsaaidienste;

* Die vermindering en versplintering van inheemse tale in die uitsaaibedryf;

* Arbeidsvereistes gegewe die vierde nywerheidsrewolusie; en

* Veranderings in die uitsaaiwese om by die nasionale ontwikkelingsplan in te pas.

Mokonyane het onderneem dat die besprekingsdokument oor hierdie kwessies binne die volgende twee dae op die departement se webwerf beskikbaar sal wees.

Sy sal ook binne die volgende paar dae ’n adviesraad aankondig wat haar van raad sal bedien oor uitsaaikwessies.

Digitale radioregulering is op pad, veral weens die oorbevolking van FM-seinwydtes in Gauteng, met meer besonderhede wat eweneens sal volg.

Mokoknyane het, sonder om juis redes te verskaf, haar opwinding uitgespreek omdat sy meen die SAUK is op die herstelpad, en het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul televisielisensies te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Aggenee ·

Daar is nie pille vir onnoselheid nie. Het mense nog niks geleer nie. Ek werk al 30 jaar vir die Staatsiens en sal nie so ‘n domheid aanvang nie. As dit te goed klink moet die rooi ligte flikker.

Francois le Cochon ·

Sommige mense praat met opwinding van hoe skoon openbare toilette is, ander vind weer dieselfde toilette walglik vuil. My punt – dit gaan oor waaraan jy gewoond is.

marous ·

Waar is waterwese se geld heen onder haar bestuur ? Vra vir haar hoekom Tzaneen dam halfpad afgebreek is en die mense ‘n pad gevat het ? Waar is die geld vir die Janetsi dam heen ? Waar is die geld vir Clanwilliam dam heen ? Waarom kom hierdie mense weg met moord?

humor ·

Die hele staatsbestel van begin tot einde het ontaard in septiese tenk waar die …………… bo op dryf.

humor ·

En die groot tragedie is dat n ommekeer onmoontlik is. Die rede is die lewens en wereldbeskouing van die massas in beheer.

Wonder net ·

Waar moet die geld vir die dekodeerders se subsidie vandaan kom?
SAUK is self in groot gemors en staatskas reeds geplunder.

JMC ·

Wanneer die digitale tyd aanbreek en dekodeerders aangeskaf moet word, is die plan mos om vir die armes gratis dekodeerders te gee. Ek sê, een TV lisensie, een dekodeerder. As jy te arm is vir ‘n dekodeerder, is jy te arm vir ‘n televisie.

Mands ·

En ons het wraggies 4 of 5 fliek wat elke maand geroteer word op SABC3. Dis dit. Die tye wat geadverteer word is verkeerd, verkeerde programme op verkeerde dae, die beeld breek soos die ou dae se projektors… dit stotter op meer as een gebied…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.