‘Stoute van Alles’-bendelede swaar gestraf ná moord, verkragting

(Argieffoto: Unsplash)

Drie lede van die Stoute van Alles-bende is vyf keer lewenslank gevonnis nadat hulle ’n vrou om die beurt verkrag en eindelik vermoor het.

Die vrou (38) is in Januarie 2018 in Odendaalsrus in die Vrystaat herhaaldelik verkrag voor sy keelaf gesny en verskeie kere met ’n klip oor die kop geslaan is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê Erasmus Ramarapetwa Mohlomi (25) en Borakkie Dan Mofokeng (24) is Dinsdag in die Bloemfonteinse hooggeregshof twee lewenslange vonnisse elk opgelê vir aanklagte van moord en verkragting.

Lebaka Andries Mokhoje (20) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir verkragting.

’n Vierde beskuldigde het intussen ’n staatsgetuie geword. Hy was 18 jaar oud ten tyde van die voorval.

Die vrou het op 28 Januarie omstreeks 02:00 ’n bier by die plaaslike taverne gekoop waarna sy vort is. Die vier mans het die vrou agtervolg waarna sy in ’n oop stuk veld agter Eskom se substasie in Kutloanong oorval, verkrag en vermoor is.

’n Verbyganger het destyds die vrou se naakte liggaam opgemerk waarna die plaaslike polisie na die toneel ontbied is.

Die ma van een van die mans het kort daarna na vore gekom en aan die polisie gesê dat sy bloedvlekke op haar seun se broek opgemerk het. Dié verdagte is in hegtenis geneem waarna nog twee van die verdagtes die volgende dag vasgetrek is nadat lede van die blitspatrollie in Welkom hulle in ’n taxi opgemerk het.

Inligting het later tot die 18-jarige se inhegtenisneming gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

25 ,24,20 jaar oud en pleeg die afskuwelike daad. Waar is die pa’s van die seuns? Baie seuns word groot sonder n pa wat n voorbeeld moet wees,en sulke seuns het weer kinders. Bose kringloop wat net voort gaan. Geen rehabilitasie in die tronke nie. Wereld word al hoe booser!

Anoniem ·

Ek glo nie hulle teenwoordigheid sou enigsins ‘n verskil gemaak het nie.

Tanniepetoors ·

Afskuwelike, onmenslike, wreedheid wat hier plaasgevind het. Mens kan jou nie so ‘n toneel indink nie. Hulle moet nooit in aanmerking kom vir parool nie.

Sokrates ·

Dit is hoogtyd dat gemeenskappe die hand diep in eie boesem begin steek rondom die werklike redes vir die misdaad en geweld en bendekultuur en sistemiese korrupsie en diefstal……. dis nooit lekker om brutaal eerlik eie swakhede en tekortkominge in die oë te kyk nie. Dis makliker om maar net als altyd in die algemeen op “armoede, apartheid, ongelykheid, “ens ens te blameer…….. asof die individu en die gesin en die gemeenskap net willose slagoffers is en ewig sal bly, asof lewenskeuses en eie wil nie n groot rol speel in verval en morele bankrotskap nie, asof afwesige pa’s en sekere kultuurgebruike nie vroue-minagting aanmoedig nie….( begin sommer met die woord “jou ma se……” wat so vryelik goedkeurend en straffeloos deel van die omgangstaal is….”

Riaana ·

Ek plaas ook eerder n wag voor my mond… Regtig siek siek verby!!!!!!!!!!!!!!!!

Blikkantien ·

Die arme, arme vrou! Hoe verskriklik moes haar laaste ure nie gewees het nie.

agnes ·

Wat flink van die mamma om haar seun oor te gee aan die Polisie. Ek wens haar sterkte toe, sy moes baie moed gehad het om so op te tree

Sage ·

Ek het respek vir die arme ma van die verkragter. Kan vir geen ma maklik wees as jou kind aan so walglike daad skuldig is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.