Straatverkoper se seun slaan 7 onderskeidings los

Avukile Nkayi by sy ma, Margaret Nkayi. In sy hande is die toekenning wat hy van die departement van basiese onderwys ontvang het. Foto: ANA

Margaret Nkayi, ʼn straatverkoper van Polar Park in Elliot in die Oos-Kaap, se bors het Vrydagaand geswel van trots toe haar slimkopseun aangewys is as een van die Oos-Kaap se topvier matrikulante van 2018.

Avukile Nkayi het sewe onderskeidings ingepalm wat hom die naasbeste matrikulant uit al Suid-Afrika se kwintieldrie-skole maak.

Die vreugdevure het Vrydagaand hoog gebrand by die Internasionale Konvensiesentrum in Oos-Londen waar die Oos-Kaapse departement van onderwys die topmatrikulante van 2018 vereer het. By die toekenningsgeleentheid kon Margaret (57) skaars haar vreugde beteuel. “Ek is so dankbaar teenoor al die skole en onderwysers wat ʼn rol gespeel het om my seun se toekoms te vorm,” het sy gesê.

“Die onderwysers by Ulundi Primary School het gereël dat hy ʼn beurs kry om by Nyanga High School sy hoërskoolloopbaan te volg en toe hy daar kom, het hy heel bo uitgekom.”

Margaret werk al sedert 1991 as ʼn straatverkoper om ʼn inkomste te verdien nadat haar man in 1990 oorlede is. Die gesin deel ʼn tweeslaapkamer-HOP-huis met ander familielede. “Ek het jare lank oorskiet gebraai en appels verkoop om kos op die tafel te sit. Nou is dit net ʼn kwessie van tyd voor ons uit die armoede sal kan kom.”

Avukile sê sy prestasie het gevolg nadat hy sy tyd opgeoffer het om ander leerders te help. “Hoe meer ek ander leerders gehelp het, hoe meer het ek self die werk verstaan.” Hy beplan om medies aan die Universiteit Kaapstad te studeer.

“Nadat ek my studie voltooi het, wil ek graag in neurologie spesialiseer en dan terugkom om my gemeenskap te dien,” sê die blinkoog matrikulant. Sy belangstelling in neurologie spruit uit die tyd toe sy ouer broer verstandelik siek geword het en nou wil hy ander mense soos sy broer help.

Avukile sê sy prestasie in wiskunde is te danke aan wiskundekampe wat deur Oscar Mabuyane, die voorsitter van die ANC in die Oos-Kaap, gereël is. “Voor die kampe was my wiskundepunte onder 80%, maar ek kon by die kamp die goed wat ek voorheen nie verstaan het nie onder die knie kry en het op die ou end bo 90% vir wiskunde gekry,” sê hy.

Sy raad aan leerders wat hul matriekjaar in 2019 aanpak? “Moenie dat jou agtergrond jou terughou nie. Wees gemotiveerd om suksesvol te wees en self jou omstandighede te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erich ·

Met soveel deursettings vermoe glo ek jy sal bo uitkom. Voorspoed.

PATTY ·

Welgedaan jong man jy verdien dit. Ek wens jou alle sukses toe vir die jare vorentoe en dat jy jou droom kan uitleef eendag.

Claudette ·

Welgedaan.. Is so bly om te sien jy het uit jou omstandighede verrys het. Mag jy ‘n voorbeeld wees vir alle jong mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.