Straatverkopers ontsteld oor hoender-verbod

Foto: ANA.

Straatverkopers wat lewende hoenders verkoop in Mpumalanga het Dinsdag hul skok en teleurstelling uitgespreek oor die besluit van die departement van landbou, bosbou en visserye om die verkoop van lewende hoenders landswyd te verbied.

Dit kom nadat die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus op nóg ʼn plaas naby Standerton in Mpumalanga uitgebreek het. ʼn Uitbreking van dié virus is ook verlede week by ʼn braaihoenderboerdery in Mpumalanga bevestig. AgriSA het Vrydag in ʼn verklaring gesê dié toestand is ook op ʼn plaas naby Villiers in die Vrystaat bevestig.

Volgens die departement is 5 000 hoenders al dood op ʼn plaas in Mpumalanga. Die res van die pluimvee op die plaas is van kant gemaak.

Solomon Khumalo, ʼn verkoper van lewende hoenders in die Mathys Zyn Loop-nedersetting in Mpumalanga, het gesê hy vrees die verbod kan dalk veroorsaak dat hy sy sakebedryf verloor. “Ek verkoop hoenders om myself en vier kinders aan die lewe te hou,” het Khumalo gesê.

“Ek het 700 hoenders wat R35 000 werd is en reg is om verkoop te word. Ek het reeds R15 000 bestee om vir hulle voer te koop. As ons vir twee weke nie mag verkoop nie gaan ek baie sakegeleenthede verloor. Ek dink nie my hoenders het daardie griep nie want ek het my eie spesiale dokter wat gereeld na hulle kom kyk,” het Khumalo gesê.

Khumalo se onderneming is langs die R573. Volgens hom koop hy kuikens in Pretoria en voer hulle tot hulle oud genoeg is om verkoop en geslag te word. Volgens hom koop straatverkopers by hom en vrees hy die verbod sal mense afskrik om lewende hoenders te koop, selfs al word die verbod opgehef.

Ander verkopers meen dié verbod kon nie op ʼn slegter tyd kom nie omdat baie mense in die KwaNdebele-omgewing nou op grootskaal hoenders koop vir seremonies en feeste wat gehou word om honderde jong mans wat van inisiasieskole af terugkeer, te verwelkom.

Twee straatverkopers in die Vezubuhle-nedersetting het gesê hulle het die hoenders soos gewoonlik in ʼn hok langs die pad gesit, maar 300 m verder geskuif omdat hulle “bang is vir die regering”. Hulle het glo net nader gegaan as daar ʼn potensiële klant was.

Sibongile Mtshweni, ʼn straatverkoper, het die regering versoek om die verbod op te hef. “Ek voel nie vry om die hoenders vandag te verkoop nie, maar ek wou nie net by die huis sit vandag nie want ek wil geld maak om mee te lewe.” Volgens Mtshweni het sy Dinsdag vyf hoenders verkoop. “Baie ouers koop die hoenders om voor te berei vir die feesvieringe wanneer hul seuns terugkeer van die inisiasieskole. Baie gaste eet nie bees nie.”

Volgens Bomikazi Molapo, woordvoerder van die departement, sou daar Dinsdagmiddag ʼn vergadering gehou word om te besin oor die verbod op die verkoop van lewende hoenders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jack Russl ·

Hoe kan jy die arme ou verbied om hoenders te verkoop? Hy het dan sy “eie spesiale dokter”

Scalla ·

Seker n toordokter wat ook sy handelslisensie goedkeur en omsien dat alle wetlike aspekte en papier werk tov belasting ens in plek is.

Lientjie ·

En as hulle die hoenders op straat verkoop en iemand gaan dood dan wil die familie weer die staat verantwoordelik hou en se hulle het nie genoeg gedoen om dit te verhoed nie.

Mornay ·

Twee van my vriende is veeartse en glo my maar dit is n baie erinstige siekte nie net vir die hoeder nie maar die eier ook, maar as die spesiale dokter anders weet koop maar die ou hoendertjies langs die pad my “Friends” ek gaan nie

Jeannette ·

Hierdie griep virus is nie-aansteeklik vir die mens, maar potensieël bedreigend vir alle voëlspesies en pluimvee, insluitende jou kosbare, duur African Grey of budgies, duiwe, eende, ganse, parakiete ….. alles wat vere en vlerke het.

vrikie ·

Ou Sollie my hart bloei vir jou, maar glo nie jou sangoma kan die siekte hokslaan nie, maar indien wel moet jy hom aan die department van hoendersake voorstel

DS ·

Eish die gowernment is darem unfair teenoor julle ou Solomon. Verkoop jou hoenders en as hulle kom, betaal net ‘n bribe, dan kan jy mos maar aangaan. Dis moes die “regte” manier van dinge doen in onse nuwe Suid-Afrika. Wie gee om dat mense se lewens op die spel is.

Kallie ·

Daar’s ook maar altyd wie “vriende” het wat beter weet.

amvi ·

Hulle moet in elk geval verbied word om die hoenders te verkoop ongeag die griep. Hulle is verskriklik wreed. Die hoenders sit vir ure in ‘n hokkie in die son. Wanneer iemand dit dan koop, word die arme hoender so onderstebo aan sy pootjies gedra tot daar waar hy dan aan sy einde kom. Hulle word lewendig in kokende water gedompel wat hulle dan dood en ook die vere los maak. Dit is baie hartseer om te aanskou. Weet deur watse pyn en angs die diere gaan.

Dries ·

Jan van Riebeeck het seker alweer iewers iets te doen met hierdie ding.

John ·

Dis maar net die begin van ons smarte tov higieniese voedselsekerheid… Siek diere, rioelwater oor ons groentetjies en siekes in vuil staatshospitale… sonder medikasie. Nou moet almal die base van hierdie besighede jammer kry… Nee, neem hulle in hegtenis weens wreedheid en die gevare wat die swak toestande vir mens en dier inhou…

Marius ·

Los die mense. Hulle is aangepas om so van die straat af lewe. Sorg dat ons eie dinge in plek is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.