Strafbare manslagklag ná Pedrie Wannenburg-ongeluk

Die Wannenburg-gesin van links: Pedrie, Francois, Evette en Isabel (Foto: Pedrie Wannenburg, Facebook)

Die bestuurder wat betrokke was by die motorongeluk wat die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg se lewe geëis het, is van strafbare manslag aangekla.

Die sheriff van Harris County, Ed Gonzalez, het dit Saterdag in ’n twiet bevestig.

Die bestuurder van die motor was ’n tiener, vermoedelik 16 jaar oud, wat glo vir die polisie in Harris County weggejaag het toe hy teen Wannenburg en sy gesin se motor vasgejaag het.

Maroela Media het vroeër berig Wannenburg, sy vrou, Evette, en hul twee jong kinders was saam in die motor ten tyde van die ongeluk.

Wannenburg en sy agtjarige seun, Francois, is ná die ongeluk hospitaal toe gevlieg waar Wannenburg later dood verklaar is.

Francois is ernstig beseer in die ongeluk. Hy is tans in ’n stabiele toestand in die Texas Medical Center.

Evette en die egpaar se tienjarige dogter, Isabel, is nie ernstig beseer in die ongeluk nie.

Gonzalez het vroeër op Twitter bevestig dat die polisie probeer het om ’n 16-jarige verdagte van die pad af te trek, maar hy het van die polisie af weggejaag. Die verdagte het naby ’n kruising agter in Wannenburg se motor vasgery.

Medelye het Saterdag vir dié oud-Springbok ingestroom. Wannenburg het in 20 toetse in sy Springboktrui uitgedraf. Hy en sy gesin is in 2016 sak en pak Amerika toe om daar rugby te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vicky ·

Die fotos van Pedrie se wrak is defnitief nie van agter nie,hy het hulle obviously reg aan die kant getref waar Pedrie bestuur het.

LeonS ·

Obviously maak dit nie saak nie Pedrie is oorlede en sy seun ernstig beseer, sterkte aan sy familie en mense na aan hom.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan die familie en naasbestaandes.

Christine ·

Een feit wat soos ‘n paal bo water staan, is dat die VSA se kinders hopeloos te jonk, onervare, onverantwoordelik en windgat is om op 16 reeds bestuurslisensies te kan kry. Dis die ouderdom wat meeste van die kinders eksperimenteer en uiters arrogant is en na niemand luister nie. Dan vang hulle sulke dinge aan. Innige simpatie aan Petrie se gesin, familie en vriende. Hoop daai arrogante kind gaan boet vir sy daad.

Papsak ·

Ja ek stem 16 jaar hopeloos te jonk ek hoop hy boet vir daai lewe wat hy gevat het en hartseer wat hy gebring het

Gary ·

Dit is hartseer verby. Mag God die familie bystaan met bo-natuurlike vrede. Dit maak nie saak wat hulle doen met die beskuldigte nie, dit sal nie vir Pedrie terugbring. RIV ou grote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.