Strafhof tref voorsorg as Basjir weer SA besoek

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Fatou Bensouda, staatsaanklaer van die Internasionale Strafhof, het voorsorgmaatreëls getref om seker te maak dat Suid-Afrika die Soedannese president Omar al-Basjir in hegtenis sal neem indien hy weer dié land besoek.

Sy het die hof se regters Dinsdag versoek om Suid-Afrika daaraan te herinner dat die land steeds onder ʼn verpligting staan om al-Basjir, ʼn voortvlugtende van die Strafhof, in hegtenis te neem, ondanks die feit dat die regering steeds in ʼn dispuut gewikkel is met die Strafhof en in die land se howe ná die president se vorige besoek in Junie.

Bensouda het in ʼn verklaring gesê daar is ʼn aanduiding dat al-Basjir moontlik weer na Suid-Afrika kan reis, na verwagting wanneer die Forum vir China-Afrika-samewerking (Focac) in Desember in Sandton byeenkom.

Sy het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering onlangs aan sy eie howe gestel het die moontlikheid is groot dat al-Basjir weer na die land sal reis, gegewe die bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Soedan en hul mede-lidmaatskap aan die Afrika-unie.

Suid-Afrikaanse beamptes het privaat gesê dat al-Bashir nie vir Focac na Suid-Afrika sal terugkeer nie, maar Bensouda wil nie enige kanse vat nie. Sy is glo ook besorg dat die voortslepende regsaksies oor al-Basjir se besoek in Junie moontlik aan Pretoria ʼn verskoning kan bied om hom nie in hegtenis te neem nie.

Die Strafhof het aanvanklik ʼn sperdatum van 5 Oktober vir die regering gegee om redes te verskaf waarom hy ʼn uitdruklike versoek van die hof op 13 Junie verontagsaam het, en al-Basjir nie in hegtenis te neem nie. Die hof sou daarna besluit het of Suid-Afrika sy verpligtinge teenoor die Strafhof versuim het en sou dit dan aan die VN Veiligheidsraad verwys het vir moontlike stappe.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter op 2 Oktober die Internasionale Strafhof vir uitstel gevra omdat ʼn plaaslike hof nog oor die kwessie moet beslis. Die Suid-Afrikaanse regering het appèl aangeteken teen die Noord-Gautengse hooggeregshof dat die regering die Suid-Afrikaanse grondwet oortree het deur al-Basjir nie in hegtenis te neem nie.

Regter Cuno Tarfusser van die het op 15 Oktober die versoek toegestaan en die sperdatum verleng. Hy het die regering aangesê om die Strafhof onmiddellik in kennis te stel van enige verwikkelinge in die saak. Indien daar teen 15 Desember nog nie enige verwikkelinge is nie, moet Suid-Afrika die Strafhof teen 31 Desember in kennis stel van die hofverrigtinge.

Bensouda het egter in haar verklaring gesê sy is nie hieroor genader nie en sy is van mening die tydsraamwerk is te onvoorspelbaar, aangesien huidige sake voor die hoogste hof van appèl moontlik tot in 2016 kan voortduur. Sy stel voor dat Suid-Afrika, indien daar geen verwikkelinge in die plaaslike hofsaak was teen 15 Desember nie, moet die regering ʼn besliste sperdatum van ongeveer 31 Desember kry om redes te verskaf waarom al-Basjir nie in Junie in hegtenis geneem is nie.

Sy het die regters ook, in die lig van deursigtigheid, versoek om die vertroulike bevindings wat met al-Basjir se besoek aan Suid-Afrika in Junie verband hou, bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Stem volhardig saam. Onthou net asb om sy maatjies nie te vergeet nie.

Tobie ·

Welkom in die SA regstelsel, waar jy kan appél aanteken teen die beslissing dat dit die Slang was wat vir Eva verlei het….

Daai strafhof sal hulle antwoord kry nadat n kommisie van ondersoek die vorige kommisie se besluite oor die eerste kommisie her oorweeg het of dit wel her oorweeg mag word.

Melt Olckers ·

Die ANC regering wys al hoe meer middelvinger vir die howe en artikel 9 instellings. Vreemd dat hulle hulself liewer wil skaar by ‘n diktator met ‘n baie onseker toekoms as by stabiele westerse demokratiese regerings.

Loeis ·

Nie vreemd nie, dit was nog altyd die ANC se denkwyse. Hulle het wel voor 1992 agtergekom dat die woord “demokrasie” vir hulle baie simpatie in die weste kon wen, en het dit om daardie rede gebruik.

Binne Suid-Afrika het die meeste mense dit geweet, maar blykbaar was dit vir hulle belangriker dat die nasionale kriketspan aan die wereldbeker kon deelneem as om die ANC te keer, en het hulle in daai jaar “JA” gese vir ANC oorheersing.

Mense se logika – dis die probleem.

pop ·

Daar gaan dadels van kom, want hierdie regering weet dit sal eendag hulle wees wat uitgelewer moet word oor die vreeslike goed wat hier aangaan.

JOHAN ·

Wat is die kans dat hy weer hiernatoe sal kom as hy weet hy sal in hegtenis geneem word.As dit ooit sal gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.