Strafregtelike aanklagte oor bobbejaan wat geskiet is

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Die Kaap van Goeie Hoop-DBV)

Die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) in die Wes-Kaap het vandeesweek ʼn strafregtelike klag teen ʼn persoon aanhangig gemaak wat ʼn bobbejaanwyfie geskiet het.

Hoewel die skote nie tot die wyfie se dood gelei het nie, was haar beserings van so ʼn aard dat ʼn genadedood “die mees menslike opsie” was.

Jaco Pieterse, hoofinspekteur aan dié DBV, sê ʼn chacma-bobbejaan is in September in Bel Ombre, Kaapstad, geskiet.

“Al is ons na die toneel van die skietery ontbied, was ons geskok om haar in so ʼn slegte toestand te vind,” sê hy.

“Die koeël het haar long binnegedring en sy het gesnak na asem toe ons haar in die pad gekry het.”

Die DBV moes ʼn wildveearts na die toneel ontbied om die bobbejaan te verdoof voordat haar toestand ondersoek kon word.

“Die erns van die trauma wat sy opgedoen het en die plek van haar beserings het ons genoop om ʼn genadedood toe te dien, wat die mees menslike opsie was,” sê hy.

ʼn Volledige nadoodse ondersoek is later by die DBV gedoen waar ʼn deurdringende wond aan die bobbejaan se bors gevind is. ʼn Klein kaliberkoeël is van die spier langs die ruggraat verwyder. Die koeël het die lob van die bobbejaan se regteronderlong binnegedring.

Die ondersoek het ook bevind dat sy op verskeie dele van haar liggaam deur ʼn windbuksgeweer getref is.

“Om enige dier so ʼn verskriklike lyding te laat verduur, is onverskoonbaar.”

Nadat die amptelike ondersoek afgehandel is, het die DBV besluit om ʼn klag ingevolge die Dierebeskermingswet teen die vermeende skieter aanhangig te maak omdat die dier so gely het voor haar dood.

Benewens hierdie klag het die DBV ook strafregtelike aanklagte kragtens die Wet op Vuurwapenbeheer vir die gebruik van ʼn vuurwapen in ʼn woongebied aanhangig gemaak, asook die oortreding van die Natuurbewaring-ordonnansie 19 van 1974 vir die onwettige jag van ʼn beskermde spesie.

“Die Kaap van Goeie Hoop-DBV veroordeel ten sterkste die onnodige en wrede gebruik van geweld teen natuurlewe aan die stedelike randgebiede van Kaapstad en is vol vertroue dat geregtigheid teen die oortreder sal geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Ai die wreedheid laat n slegte smaak in mens se mond. Hoop jy kry wat jou toekom.

Roek ·

Laat hul bietjie jou huis kom opvoeter en goed uit jou hande pluk . ek se nie skiet die dier nie maar is daar ander metodes !

Miskruier ·

As mens in hul gebied intrek moet mens die gevolge dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.