Strafregtelike aanklagte teen Eskom-hoof ingebring

Argieffoto: GCIS

Die DA het Maandag strafregtelike klagtes teen Matshela Koko, die heraangestelde waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, aanhangig gemaak omdat hy volgens dié party die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree het.

Natasha Mazzone, woordvoerder van die DA, het gesê dít kom ná die “klug van ʼn dissiplinêre verhoor” waartydens Koko vrygespreek is van alle aanklagte wat verband hou met beweerde wangedrag by die kragreus.

“Ons het klagtes aanhangig gemaak ingevolge hierdie wet omdat ons glo Koko het sy amp misbruik om sy stiefdogter se maatskappy te bevoordeel. As dit waar is, is dit ʼn oortreding van dié wet,” het Mazzone gesê.

Koko was volgens die bewerings betrokke by die toekenning van Eskom-kontrakte ter waarde van R1 miljard aan Impulse International, ʼn maatskappy waaraan sy stiefdogter verbonde is.

“Aangesien Eskom en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, blykbaar nie in staat is om die vermoedelik gekaapte en swaar geïmpliseerde Koko verantwoordbaar te hou nie, hang dit van die Valke af om die saak te ondersoek en stappe te doen sou die ondersoek enige bewyse van oortreding vind,” het Mazzone gesê.

Koko is tydens verlede week se interne dissiplinêre verhoor onskuldig bevind op alle aanklagte teen hom. Die voorsitter van die verhoor het gelas dat hy weer in sy pos aangestel word.

Hy het ses aanklagtes, insluitend dat hy nie ʼn botsing van belange rondom sy stiefdogter se onderneming verklaar het nie, in die gesig gestaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

Ondersoek die voorsitter en kommitee ook. Hulle is almal kop in een mus.

Phillip ·

Een groot klug ! Geen tekens van integriteit te bespeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.