Strafregtelike klag kom teen halsstarrige Myeni

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

Dudu Myeni, sakevrou en voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), bevind haar nou in die geselskap van haar noue bondgenoot, oudpres. Jacob Zuma, nadat die Zondo-kommissie na staatskaping beveel het dat ʼn strafregtelike klag ook teen haar aanhangig gemaak word.

Myeni, wat verlede jaar boonop tot misdadige direkteur verklaar is, het oënskynlik haar neus vir die kommissie opgetrek en Dinsdag aanvanklik nie opgedaag om voor adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, te verskyn nie.

Myeni het egter haar regsverteenwoordiger, adv. Nqabayethu Buthelezi, gestuur om die kommissie vir uitstel te gaan vra.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier, het aangevoer daar was geen rede vir Myeni om nie, soos geskeduleer, voor die kommissie te verskyn nie. Sy sê dit is boonop ʼn patroon by Myeni om weerstand teen enige vorm van aanspreeklikheid te bied.

“Dis nou tyd vir die reg om sy loop te neem,” het Hofmeyr aangevoer en gevra dat ʼn strafregtelike klag teen Myeni aanhangig gemaak word.

Zondo het hiermee saamgestem en die sekretaris van die kommissie aangesê om dié stappe te doen.

Myeni het later die dag wel aanlyn getuig, hoewel dit nie enigiets verander het aan die besluit om ʼn klag teen haar aanhangig te maak nie.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste, het die besluit verwelkom om stappe teen Myeni te doen nadat sy die dagvaarding om te verskyn verontagsaam het.

Breytenbach sê Buthelezi het die “verregaande verskoning” aangebied dat Myeni nie toegang tot die nodige dokumente gehad het om te getuig nie en dat sy ook nie geweet het sy moet verskyn nie omdat sy onlangs van regspan verander het.

“Die DA glo daar mag nêrens wees om weg te kruip vir mense wat samewerking met die Zondo-kommissie probeer ontduik nie.

“Laat dit ʼn les vir alle staatskapers en korrupte politici en hulle goed gekoppelde kaders wees dat die lang arm van die gereg genadeloos is en jy eindelik vir jou optrede sal boet,” sê Breytenbach.

Die kommissie het vroeër ook ʼn strafregtelike klag teen Zuma aanhangig gemaak nadat die oudpresident ook versuim het om te verskyn.

Die kommissie het die Konstitusionele Hof gevra dat Zuma tronkstraf opgelê word vir sy minagting van die hofbevel om te getuig.

Uitspraak in dié saak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Stofdonkie ·

Dit wil al meer duidelik raak dat die Zondo kommisie ‘n hond is sonder tande. Die kommisie is slegs ‘n skyn om die anc se beeld te poets en mense onder die indruk te bring dat daar opgetree word teen die staatskapers. Die werklikheid is egter dat regter zondo net met ‘n goeie salaris beloon word om te sit en met sy maats te gesels oor hulle prestasies en ervaringe gedurende hulle plundertogte van staatsgeld.

JohanR ·

Nee ah man. Ek wens Zondo wil nou bietjie wind in die broek kry en iemand tronk toe stuur vir minagting. Hoeveel kanse gaan hierdie een kry om te explain please?

Deon ·

Ek dink Zuma is die uitdaging hier, omdat hy so verhewe is gaan dit n probleem wees om n ander toe te sluit vir selfde goed wat hy nie voor toegesluit word nie

Johann ·

Ja shure….soos haar tjomma Mr Z gaan haar vervolging en vonnis bloot vir jaaaaaaare uitgestel word. So bv is dit nie n verrassing dat daar steeds GEEN uitspraak teen Zuma gedoen is nadat hy blatant die hof geminag het nie?

Mallie ·

Almal = ANC kaders wat dink hulle is onaantasbaar soos Zuma

Strandloper ·

Ek dink hulle is die manier wat hul optree, raas baie en lag vir almal! Rammetjie uit nek is te bang on hul aan te vat anders steek hy sy eie agter end toe!

marius ·

Hierdie komissie kan net sowel ‘n mamba met ‘n oor stokkie probeer doodslaan . Een vet rookskerm .

Kokerboom ·

Tot tyd en wyl dat die arrogante veragtelike laag ANC boewe nie straf opgelê en tronkstraf kry sal NIKS verander

Martie Smartie ·

Nou wat is uitspraak voorbehou? Beteken dit die hof is te bang om ‘n objektiewe uitspraak te gee of sukkel om met ‘n politiek-gunstige uitspraak vorendag te kom wat nie ooglopend teen die reg/ irrasioneel/ arbitrer is nie? Waarom speel die hof speletjies in Zuma se uitspraak?

Pieter ·

Ou zondo werk vir die anc en ons belasting betalers betaal vir die sirkus

Piet parys ·

En wat het van Zuma se saak om voor Zondo te verskyn geword na dagvaardiging of straf hulle net onder ges kiktes

koos10 ·

Dis nou dieselfde vrou wat by die hof gepleit het dat sy werkloos is en nie kan bekostig om haar hofsaak by te woon nie. Nou “hire and fire” sy regspanne? Nou onthou ek, regspanne werk mos verniet!!

Anoniem ·

Sy ken waarskynlik nie die verskil tussen ‘n vlieg en ‘n vliegtuig nie. Dis nou ‘n tipiese voorbeeld van onbevoegde kaders in posisies aanstel waarvan hulle absoluut niks weet nie.

jzjz05 ·

Julle, daar sal niks gebeur nie ,die ANC is slim en rek n klagte vir jare uit om nie te vervolg word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.