Strafregtelike klag teen Ba-Phalaborwa-bestuur ingedien

(Foto: Verskaf)

Die VF Plus in Limpopo het Maandag ’n strafregtelike klag teen die bestuur van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit aanhangig gemaak nadat sommige inwoners van Phalaborwa vir sowat drie weke sonder water en krag moes klaarkom.

Maroela Media het vroeër berig ondergang en ineenstorting staar Phalaborwa – eens ʼn dorp van die jaar- finalis – in die gesig.

Die dorp gaan onder ernstige diensleweringskwessies gebuk, is met rommel besaai, en die prentjiemooi omgewing word toenemend besoedel, het ʼn jare lange inwoner onlangs aan Maroela Media gesê.

(Foto: Verskaf)

Volgens Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, is die strafregtelike klag by die Ba-Phalaborwa polisiestasie ingedien en kom dit ná die gemeenskap die party om hulp genader het.

“Ondanks die party se skrywes sedert Maart vanjaar – waarin onmiddellike optrede geëis is – het die munisipaliteit steeds versuim om die waterkrisis daadwerklik op te los.

“Die munisipaliteit het ’n wetlike verpligting ingevolge die Wet op Waterdienste 108 van 1997 en die Nasionale Waterwet 36 van 1998 om drinkbare water aan sy inwoners te verskaf,” sê Maritz.

Sy sê die munisipale bestuurder, dr. Kgoshi Lucas Pilusa, is die rekenpligtige beampte van die munisipaliteit, terwyl die uitvoerende burgemeester, Miriam Malatji, veronderstel is om ʼn oorsigrol te vervul.

“Ondanks die VF Plus se oproepe vir dringende optrede is dele van die dorp, ná die verwoestende brande in September, in puin gelê omdat daar nie water beskikbaar was om die brande te blus nie.

“Inwoners van Phalaborwa gaan al vir byna twee jaar onder ʼn tekort aan water gebuk en met die versengende hitte in die provinsie, kan inwoners nie langer vir optrede wag nie,” sê Maritz.

Sy sê dit is veral inwoners by plaaslike tehuise vir bejaardes wat sukkel om oor die weg te kom.

“Getroue belastingbetalers verdien beter as die ANC se wanbestuur van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit. Die VF Plus sal sy druk volhou en die saak monitor.

“Die enigste manier om Suid-Afrika te red is deur te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is,” sê Maritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelize ·

Ek hoop regtig iets gaan gebeur hier deur. Dit is as of Phalaborwa se “bestuur” net geld wil skep & sodra ons aksie hou teen hulle word die krag & water probleem net erger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.