Strafregtelike klag teen Denel-hoës

Die vakbond Solidariteit het Vrydag namens sy lede wat by die staatsbeheerde entiteit Denel werksaam is ʼn strafregtelike klag teen Zwelakhe Ntsepe, uitvoerende hoof en Odwa Mhlwana, die hoof- finansiële beampte, aanhangig gemaak.

“Dít volg nadat dit aan die lig gekom het dat werknemers se geld deur die maatskappy verkwis is,” het Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, gesê. Volgens Reynecke word die klag ingevolge artikel 332 van die Strafproseswet gelê.

Hy het gesê die klag sal ook aan die nasionale direkteur van openbare vervolging, die Gautengse direkteur van openbare vervolging, sowel as die beheeraanklaer van die handelsmisdaadeenheid gestuur word.

“Denel het wetend en sonder die toestemming van sy werknemers fondse – wat deur die werknemers self gespaar is om sodoende ʼn jaareindbonus te kan ontvang – wanbestuur. Hierdie fondse vorm deel van die werknemers se totale kostepakket en hulle het derhalwe ook belasting op hierdie geld betaal,” het Reyneke beweer.

Reyneke wys daarop dat terwyl die werknemers se eie geld nie aan hulle betaal is nie, die hoof- finansiële beampte dit goedgedink het om na bewering 100% van sy toegelate prestasiebonus teen Maart 2018 aan homself uit te betaal.

“Denel het erken dat hy sowat R350 miljoen kort om al sy krediteure te betaal en kon tot op hede nie aan werknemers verduidelik hoekom die geld wat gedurende die jaar van hul salarisse vir hul bonusse afgetrek is, nie aan hulle uitbetaal word nie. Dít terwyl Mhlwana homself met ʼn volle prestasiebonus vergoed,” het Reyneke gesê.

Reyneke meen dat hierdie optrede deur Denel se bestuur krimineel en absoluut gewetenloos is.

“Daar is geen verskoning daarvoor om werkers se swaarverdiende geld sonder hul toestemming te verkwis, terwyl die onus op jou as maatskappy berus het om dit namens hulle te belê nie,” het Reyneke gesê.

“Solidariteit dien nou hierdie klag namens sy lede in wat reg en geregtigheid verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooiman ·

Die rede is eenvoudig: Hulle gee nie n flenter om vir enige iemand anders, behalwe hulleself nie. Net soos elke ander staatsdepartement waar geld verkwis en met bedrog wegraak. Lekker man, lekker!

hendrik ·

Rooiman, net my beskeie mening maar ek dink dis die tekens van n psigopaat. As dit wel so is, is ons omring van die goed.

Lientjie ·

Die hemel weet hulle voel niks vir hul mense nie. Ek se ieder en elk wat nie hulle bonus gekry het nie moet ‘n saak teen die 2 by die SAPD gaan oop maak. Dis diefstal en bedrog!

Denel-bevarkte ·

Die artikel praat van “teen Maart 2018” wat hy sy geld ontvang het. Dis seker bedoel om 2017 te wees?

Die ander probleem is dat NET EEN Denel filiaal inkomste uit kontrakte het, terwyl AL DIE ANDER FILIALE se mense ook nog betaal word.

Johan Last ·

Hulle moet my nooit in die posisie sit van beheer nie. Elke liewe persoon sal vervolg word met maksimum straf wat ENIGE deel het met korrupsie of enige ander kriminele oortreding in die goewerment. Ons land moet begin om beheer terug te vat uit die hande van die leeuenaars, skelms, onbevoegde en ander kriminele instansies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.