Strafregtelike klagte na OB-verslag oor Pelgrimsrus-tenders

Pelgrimsrus

Pelgrimsrus

Die VF Plus sal na verwagting Maandag strafregtelike klagte by die polisiekantoor in Brooklyn, Pretoria, indien teen amptenare wat betrokke was by beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders vir die huur van eiendomspersele in Pelgrimsrus.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het Donderdag gesê die party wou die klagtes aanvanklik vandag [Donderdag] indien. Die stasiebevelvoerder het egter na bespreking van die klag, die party geadviseer dat dit vinniger hanteer sal word indien dit direk by die Nelspruitse polisiekantoor ingedien word. Die VF Plus sal komende Maandag die klag formeel by die Nelspruitse SAPD indien.

Volgens adv. Alberts is dit die uitvloeisel van ‘n klag wat die VF Plus op 6 Julie verlede jaar by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het namens 17 eienaars van sake-ondernemings op die geskiedkundige myndorp wie se huur op kort kennisgewing opgeskort is.

Die persone is net 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim sodat die nuwe huurders kon oorneem. Nuwe kontrakte is daarna glo teen “belaglik lae huurgeld” aan die nuwe huurders toegeken.

Die tenderproses het volgens die bevindings van die OB verskeie onreëlmatighede bevat en die VF Plus het dienooreenkomstig klagte van bedrog en korrupsie teen die betrokke amptenare en die tenderaars, wat in die OB se verslag gemeld word, ingedien.

Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het intussen die omstrede tenderproses op aanbeveling van die OB geskrap en dit moet van voor af gedoen word.

Adv. Alberts sê die aangeleentheid is ‘n groot oorwinning vir sakelui van die dorp, en ‘n bewys dat die VF Plus vir die regte van gewone landsburger opstaan. Hy sê die nuwe tenderproses sal ook noukeurig dopgehou word om seker te maak dit verloop eerlik en deursigtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ria Maritz ·

Thuli Madonsela het sowaar ‘n kop op haar lyf – vat GEEN nonsense nie en het tot dusver net respek verdien vir haar volgehoue eerlikheid en harde werk.

Hierdie dorpie hou soveel mooi herinneringe in … ek hoop werklik daar gaan streng opgetree word teen die amptenare.

Jacorita Kruger ·

Ek wonder nou net of die VF nie ook wil kyk na tenders wat in Pretoria vir Mamelodi toegeken is ter waarde van +- 45 miljoen nie. Ek weet vir n feit die kontrakteur kan dit nie doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.