Strafregtelike klagte teen burgemeester oor ‘rioolvuil’ in drinkwater

Die water wat aan inwoners van Winburg in die Vrystaat verskaf word, word glo met rioolvuil besoedel. Nie eens chemikalieë kan dit suiwer nie. (Foto: DA)

Strafregtelike klagte is teen die burgemeester én munisipale bestuurder van die Masilonyana-munisipaliteit aanhangig gemaak omdat rioolvuil onophoudelik in Winburg se drinkwaterbronne instroom.

Volgens wet is die onwettige of doelbewuste optrede of gebrek aan optrede wat ʼn waterbron besoedel of besoedeling kan veroorsaak en ʼn waterbron benadeel, ʼn strafregtelike oortreding.

Brunhilde Rossouw, ʼn DA-raadlid, het gesê die water wat sedert 28 Desember verlede jaar aan inwoners verskaf word, is groen.

“Die DA het ondersoek ingestel en bevind dat die plaaslike damme wat die gemeenskap se watersuiweringsaanleg bedien só besmet is met rioolvuil uit die dorp, dat geen hoeveelheid chemikalieë dit kan suiwer nie,” het Rossouw gesê.

“Die DA is bekommerd dat die water steeds gebruik word om te bad, asook om skottelgoed en klere te was. Dit hou ʼn geweldige veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in.”

Rossouw sê dit is die munisipaliteit se grondwetlike plig om skoon, veilige drinkwater aan inwoners te voorsien. Siektes of sterftes wat kan spruit uit die drink van die water moet voor die munisipaliteit se deur gelê word, het sy gesê.

Volgens haar moet burgemeester Steven Koalana en munisipale bestuurder Pule Tsekedi asook die administratiewe en politieke hoof van die ANC-geleide raad, verantwoordelikheid aanvaar en verseker dat inwoners se grondwetlike regte beskerm word.

Die DA gaan ook aan die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake en die betrokke minister skryf om te vra dat dringend ingegryp moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.