Strafregtelike klagte teen EFF-lede ná H&M-betogings

EFF-betoging by H&M (13 Januarie 2018) Foto: @mtshwaku (EFF Wes-Kaap), Twitter.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Maandag strafregtelike klagte van aanhitsing tot geweld teen van die leiers van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) by die Brooklyn-polisiestasie in die ooste van Pretoria ingedien.

“Die klagte hou meestal verband met Julius Malema, Floyd Shivambu en Mbuyiseni Ndlozi se uitsprake oor die naweek waarin hulle EFF-lede aangehits het om H&M se winkels te plunder, asook omdat hulle die geweld by die onderskeie klerewinkels agterna goedgepraat het,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Maroela Media het berig chaos het Saterdag by die Menlyn-winkelsentrum in die hoofstad uitgebreek toe EFF-lede by die H&M-winkel in die sentrum toegeslaan het. Klere is rondgegooi en winkelpaspoppe is omgestamp. Die party het ook by die klerewinkel se takke in Sandton, Johannesburg en die V&A Waterfront in Kaapstad betoog. By East Rand Mall het die betogers die winkel betree en verskeie items gesteel.

Die betogings hou verband met ʼn advertensie van die klerewinkel wat vroeër verlede week wêreldwyd opslae gemaak het. Die Sweedse klerewinkelgroep is skerp veroordeel vir ʼn advertensie vir die oorsese mark waarin ʼn swart seun ʼn oortrektop dra met die woorde, “Coolest monkey in the jungle”.

Die top en die advertensiemateriaal is intussen onttrek en die maatskappy het ʼn verskoning op sy webwerf en Instagram geplaas.

Ndlozi, woordvoerder vir die EFF, het egter gesê die verskoning is “te min, te laat”. “Die tyd vir verskoning vra vir rassisme is verby. Daar moet gevolge wees vir teen-swart-rassisme!” het hy op Twitter geskryf.

“Ons klagte en kommer fokus op invloedryke politieke leiers, wat lede van die parlement is met talle volgelinge wat mense aanhits tot misdaad en nie soseer oor die plundering en vandalisme van die winkels oor die naweek nie,” het Roets gesê.

Volgens hom het Malema die naweek op ʼn navraag op sosiale media oor hoe die EFF dink die party kan rassisme met wetteloosheid beveg, net geantwoord dat niemand aan hulle kan voorskryf hoe om die rewolusie te voer nie.

“Ons betwis nie die EFF se bewerings dat die advertensie rassisties was nie, maar daar is ʼn legio metodes om protes op ʼn wettige manier daarteen aan te teken. Kyk maar byvoorbeeld na wat verlede jaar met Spur gebeur het.

“Die EFF kies geweld en moedig dit aan. Daar was ʼn reeks soortgelyke opmerkings oor die drie dae waarin die party se leiers die vandalisme van die winkels aangehits en goedgepraat het. As invloedryke politieke figure dít doen, moet dit soveel ernstiger opgeneem word,” het Roets bygevoeg.

Roets het gesê AfriForum het die polisie versoek om hulle op die hoogte van die vordering met die saak te hou. “Indien ons voel dit word nie met die nodige dringendheid hanteer nie, sal ons nie die moontlikheid van private vervolging uitsluit nie.”

H&M Suid-Afrika het Saterdag gesê die veiligheid van die winkels se personeel en klante is vir hulle belangrik en daarom het die maatskappy besluit om tydelik sy plaaslike winkels te sluit.

Volgens IOL het Benjamin Desoloane, voorsitter van die Tshwane EFF, Sondag gewaarsku dat as H&M dit sou waag om die Menlyn-tak te heropen, die party se lede weer sal betoog en elke dag daar wees, indien nodig.

H&M het ook bevestig dat niemand in die oproervoorvalle beseer is nie. “Ons hou die situasie dop en sal ons winkels heropen as dit veilig is,” lui ʼn mediaverklaring op die klerewinkelgroep se webwerf.

Terry Mango, die ma van die vyfjarige Switserse seuntjie wat in die omstrede advertensie verskyn het, het gesê sy word nou ook aan rassistiese uitlatings op sosiale media onderwerp nadat sy die advertensie waarin haar seuntjie verskyn, verdedig het.

Sosialemediagebruikers het teen haar gedraai en haar onder meer ook ʼn aap genoem nadat sy op Facebook gesê het sy verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie. Sy het mense gevra om nie die situasie uit verband te ruk nie.

“Hoe kan jy rassisme beveg as jy rassistiese uitlatings maak? Jy kan nie my seun verdedig, maar dieselfde woorde gebruik om my te beskryf nie,” het sy gesê, aldus EWN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Rooiman ·

Ek sal graag wil hê Ernst Roets moet kom verduidelik hoe daai advertensie “rassisties” is of was? Julle ruk die dink uit verband uit, net soos die EFF, deur dit te erken. Siestog…

Casper Labuschagne ·

Daar gee ek jou gelyk. Nie die maatskappy, of hul reklameagentskap het die advertensie gemaak vanuit rassistiese oorwegings nie. Ondeurdag, sekerlik, maar nie rassisties nie. Daarby is dit ‘n oorsese advertensie, bedoel vir die oorsese mark en ‘n bietjie te ver anderkant die bloudam om onder die jurisdiksie van of Afriforum of die EFF se oordeel te val.

christa ·

dis nou hoog tyd dat daar iets daadwerklik teen Malema gedoen word. Ek kan nie dink dat iemand met so n goeie geleerdheid sulke swak gedrag kan toon nie. Sluit hom sommer toe dat hy goed skrik gemaak word.

CAROL ·

Ek stem saam. Die EFF (Everything For Free)…
jy weet niks gaan met hul oor kom nie

Veritas ·

Christa, al word Malema wel skuldig bevind, sal hy nie toegesluit word nie. Politici in Suid-Afrika, is skynbaar van vervolging of ten minste, van tronkstraf, gevrywaar. Die hele spul is net daar vir eie gewin en gebruik kiesers om hulle in dié poste te kry. Ek roem my daarop dat ek slegs een maal in my lewe aan ‘n verkiesing deelgeneem het en dit was in die vroeë sewentigs toe ek 18 was. Daarna het ek slegs in die twee referendums ‘Nee’gestem. Gee politikus word verantwoordelik gehou vir die gemors wat hulle aanjaag nie en probeer baasspeel oor diegene wat hulle ingestem het. Ek troos my daaraan dat ek geen aandeel gehad het in die huidige politieke landskap nie. Daar is geen beleidsverskille tussen die onderskeie partye, wat dit vir my die moeite werd maak om vir A, B of C te stem nie. Nou kan julle my maar aanval, ek het my sê gesê.

Magda vd Westhuizen ·

Die SAPD moes lankal reeds betrokke geraak het en die mense wat privaat eiendom so beskadig het, inhgetenis geneem het en dienooreenkomstig aangekla het. Die oortreders doen net wat hulle wil want hul word nie verantwoordelik gehou vir wat hul doen nie. Die saak is heeltemal uit verband geruk. Sou die EFF dieselfde gereageer het as dit n blanke of kleurling of Indier kind was wat die modelletjie was? Nee ek is oortuig nie, hulle is belaglik!!

Monkeynastix? ·

Nou wil ek graag weet of die Monkeynastix groep hul naam gaan moet verander? Hul hele bemarking (en die konsep van gym vir klein kinders) gaan oor apies. Beteken dit as ‘n swart kind gaan monkeynastix doen met ‘n monkeynastix hempie aan dat daar rassisties teenoor hom opgetree word? Dieselfde met die dosent wat in die moeilikheid gekom het oor hy die woord: “Monkey puzzle” gebruik het vir ‘n veelvuldige keuse vraag toets. Dit word heeltemal uit verband geruk en is sommer nou belaglik!

Dina ·

Ek stem 100% saam. Ek sien geen rassisme in die advertensie nie. Ek sal daai top enige tyd koop vir my kind. Belaglik!!!!!

toy ·

Daar is maniere en maniere om probleme op te los, dit was vandalisties gewees. Gooi tatrum soos ‘n twee jarige kind. Agnee dit is absoluut swak!

botterblom ·

Rooiman, dit is ‘n politieke game en jy moet die regte woorde op die regte tyd en manier gebruik….
Probleem is nie rassisme nie, dit is miderwaardigheids komplekse en opstokery in dieselfde asem. As ek myself elke maal moet vergelyk met iets wat op ‘n t-shirt staan of vergelyk met iets anders het ek ‘n selfbeeldprobleem.
Die ander slegte sy van die saak is dat die kind se modelloopbaan nou van die baan is.. hy het ‘n geleentheid gekry en kon sy studiefonds aangevul het met die geldjies. Nou het mense wat sleg in alles sien, dit kortgeknip.
Waar gaan die oor en weer gerassistiese beskuldiging ens. eindig. Jy kan nie mense se denke verander nie, maar jy kan ‘n stout kind ignoreer… Jy sal nie haat uit iemand beboet of deur geweld uitruk nie, jy gaan dit net aanblaas. Hoekom span almal nie saam en vereenselwig jou nie met iemand se haatspraak en woorde nie. Jy weet mos wie jy is, so hoekom moet woorde ens. jou laat minder voel as wie jy is. Dalk moet politieke leiers liewer saamstaan en die stout kinders ignoreer as om hul petrol vir nog vuur te gee….
Ons bou nie ‘n land tans nie, ons staan nie saam nie..

HPV ·

Van die klagte gaan niks kom. Bemark die EFF en hul meelopers se terrorisme internasionaal en vra sanksies teen hul leiers aan.

Seriaas ·

As die EFF werklik ekonomiese onafhanklikheid nastreef, moet hulle dalk bietjie meer insig en respek toon vir die land se ekonomiese welstand. Elke keer as ‘n internasionale maatskappy uit SA onttrek, styg die werkloosheidsyfer en verswak die rand. Die EFF is soos kinders wat genot put daaruit om ander kinders se speelgoed te breek of af te vat maar wat nooit self gelukkig kan speel nie.

Patrys ·

Goeie punt, maar die einddoel van die EFF is nie die ekonomiese of sosiale welstand van Suid-Afrika nie, maar net chaos, wetloosheid en wanorde. Die EFF is by uitstek anargiste met geen respek vir besittings, eiendom of menslike lewens nie. En as alles uiteindelik in puin lê sal hulle “tot die redding” kom. In die land van die blinde is die eenoog mos koning!.

Christo ·

Stem saam Toy. Dit is vandalisme wat n kriminele oortreding is. Dan noem hulle dit (saam al hul ander belaglike argumente) n “betoging”! En die berig skrywers noem dit ook betogings. Net so onverskoonbaar. Ek bly in Namibië maar dit is vir my ongelooflik hartseer om te sien hoe n eens stabiele en vooruitstrewende land in so n morsigheid wegsink. Ons bid elke dag vir julle en weet net dat God elke oomblik en oor elke situasie in beheer is!

Lientjie ·

AfriForum skop ook net die eier uit die nes dan le dit op die grond en vrot word. Ons sal nooit weer oor hierdie klagte iets hoor nie.

Jan Visagie ·

Het Afriforum nie belangriker dinge om op te konsentreer nie as hier met H&M betrokke te raak nie? Soos byvoorbeeld die behoue van Afrikaans op universiteite en armoede onder Afrikaners? Ek dink dit is glad nie Afriforum se probleem nie hulle moet dit vir H&M los.

Jacques venter ·

Die verontregting van swart mense oor eeue manifesteer nou in hierdie optrede. Blameer aparthate met al sy onderdrukkende wette

Pop ·

Ek stel voor al die werkers van die firma gaan na mnr Malema en vra vir werk en om in al hulle behoeftes te voldoen. Aangesien hulle nou gedreig word as hulle oopmaak doen hulle dieselfde wetteloosheid . H@M maak toe en gaan maak julle winkels in ander land oop

Andrea ·

Die seuntjie se ma is n intelligente en nugter vrou. Wens daar was mense van haar kaliber in Suid-Afrka

Al ·

Die H&M winkelgroep hoef nie omverskoning te vra nie. Kleintjies is baie lief vir woud en wildedier verhale.
Kyk na bv na Lion King se teaterproduksie. Uiters gewild met 90 miljoen toeskouers en R100 milj se inkomste.Ñ Swart aktrise speel ñ aap en is grimeer soos een. Gaan die EFF nou ook teaters vandaliseer?
Belaglik!

Chrisjan ·

‘n Land se (veranderde) politieke bestel maak nie dat die inwoners ewe skielik “vry” van hul ingebore mentaliteit is nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die Israeliete wat vir ongeveer 40 jaar steeds n “slawe-mentaliteit” gehad het, selfs al was hulle weg van die Egiptiese onderdrukkers en vrygestel. Geen demokrasie kan mens vrymaak nie. Jy is òf vry in jou kop/denke òf jy sal altyd ‘n “onderdrukte” mentaliteit hê. Elkeen van ons landsburgers het ‘n keuse. Dis duidelik dat sommige Suid-Afrikaners kies om nog hul “slaaf”-mentaliteit te koester.

Vryheid ·

My raad aan H&M – Maak al jul winkels toe. Verlaat die land SA het nie die blankes nodig nie nog minder die buiteland -hulle kan mos self werk skep, wet en orde handhaaf sonder korrupsie. GIVE SA BACK TO THE AFRICANS. ……
AMANDLA!!!!!

Markus ·

Los die EFF uit. Kla die vervlakse SAPD aan wat die EFF optredes moontlik gemaak het.

Susan VL ·

Ek lag lekker. …rassisme?
Siestog.. .nou kan n apie hom/haar ook nie self verdedig nie.
Apie kani praat nie.
Diere as n vergelyking is oulik. Soms is my man my tier, soms soos ń Olifant agv sy goeie geheeu..ek soms sy Bokkie..
Soms was my seuna soos ń apie soos wat hy my vasklou
Ek sien nie rassisme by die vergelyking nie.
Defineer asb die woord rassisme eff..

Marie ·

Ek verstaan nie die liggeraakheid van mense nie,het hulle ‘n swak selfbeeld of was dit net ‘ n verskoning vir plundering en diefstal ?H&M moet miskien ‘n uitleg gee van die skade asook hoeveel mense hulle werk sal verloor as die winkels moet sluit,asook die hoeveelheid belasting wat jaarliks deur hulle betaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.