Strafregtelike klagte teen twee ministers ingedien

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, dien die strafregtelike klagte in. Foto: Twitter via @Our_DA

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het adjunkpresident David Mabuza se uitdaging aanvaar en strafregtelike klagte ingedien teen verskeie ANC-lede en -simpatiseerders wat veiligheidstoerusting van die omstrede maatskappy Bosassa ontvang het.

Bosassa het sy naam verander en staan nou bekend as African Global Operations.

Mabuza het, toe hy Woensdag in die parlement deur Steenhuisen gekonfronteer is oor die ANC se stilswye rakende die regerende party se jongste skandaal, vir Steenhuisen uitgedaag om klagte in te dien.

Dít het Steenhuisen vanoggend by die polisiestasie wat kragtens die jongste misdaadstatistieke die besigste in die land is, Kaapstad-Sentraal, gedoen.

Die strafregtelike klagte is ingedien teen twee dienende ministers, ʼn adjunkminister, ʼn senior ANC-LP, ʼn voormalige direkteur-generaal, ʼn voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en ʼn voormalige voorsitter van die SAL wat ʼn besonder hegte vertroueling van oudpresident Jacob Zuma is.

Steenhuisen het die klagte ingedien teen onder andere die minister van kommunikasie en oudpremier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, die minister van minerale hulpbronne en huidige nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling en oudpremier van Mpumalanga, Thabang Makwetla, die ANC-LP Vincent Smith (wat voorsitter van die parlement se waghondkomitee oor korrektiewe dienste was toe Bosassa reusetenders van die departement van korrektiewe dienste gekry het), Linda Mti, wat in dieselfde tydperk direkteur-generaal van korrektiewe dienste was, die voormalige Prasa-hoof, Mbulelo Gingcana, en Dudu Myeni, ʼn Zuma-vertroueling wat verlede jaar as voorsitter van die SAL-raad verwyder is.

Die DA-hoofsweep het by die polisiestasie gesê hy hoop die ANC tree nou op teen die korrupsie, maar as hulle dit nie doen nie, sal die polisie wel.

Die klagte is ingedien kragtens die Wet op die Bestryding van Korrupsie en Korrupte Aktiwiteite.

Bosassa het luidens dokumentêre bewyse onder meer betaal vir ʼn veiligheidstelsel van R250 000 by Myeni se huis in Richardsbaai, veiligheidstelsels van R300 000 by Mantashe se wonings in Boksburg, Elliot en Cala, ʼn veiligheidstelsel van R350 000 by Makwetla se woning en ʼn veiligheidstelsel van R200 000 by Smith se huis in Roodepoort.

Smith het ook luidens die dokumentasie kontant van Bosassa ontvang. Tans ontken Smith die bewerings en die res van die betrokkenes sprak geen sprook nie.

Steenhuisen het gesê die DA staan nog altyd sterk in die stryd teen korrupsie, en glo in aanspreeklikheid.

“Hierdie ernstige aantygings moet spoedeisend ondersoek word. Die mislukkende ANC het toegelaat dat korrupsie in die land gedy tot nadeel van die land. Suid-Afrikaners kan dit keer deur in volgende jaar se verkiesing vir die DA te stem,” het Steenhuisen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann cb ·

Dankie aan die DA wat daadwerklik optree! Lóói hulle asseblief behoorlik!

Cherokee ·

Steenhuisen, jy was in ons metroraad gereeld in gevegte teen .. ag (kan nie die wit engelse munisipale bestuurder se naam onthou nie, behalwe dat ek geweier het om hom te groet). Ek besef Steenhuisen, dat jy steeds in die vyandskamp is maar aanvaar ook asseblief komplimente vanaf die vyand.

Snowball ·

Hulle is almal eerlik Manie, net tot hulle uitgevang word.

Moses ·

Vrek duur en gesofistikeerde stelsels wat so baie kos. Die klomp narre is erg skrikkerig vir hulle eie mense.

Bobby ·

Dankie DA. Iemand moet tog seker iets doen om die korrupsie te probeer Keer!!!!

Al ·

Sies ANC, dis jul plig om jul lede te dissiplineer en sake aanhangig te maak!
Nou moet die DA jul werk vir jul doen.

Sarel ·

Soos vele kere reeds gese, sekere mense is nie kwaad dat ander misdaad pleeg , hulle is kwaad omdat dit so swak gedoen is dat die skuldiges uit gevang is en waarskynlik nou na ander poste verskuif moet word en die skelm besigheid van die dag rem . Die nuweling moet nou eers weer die stelsel leer ken en die ander verloor dus geld .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.