Strafregtelike klagtes volg dalk ná Bell Pottinger se verskoning

Die VF Plus aanvaar nie Bell Pottinger (BP) se verskoning oor sy optrede in Suid-Afrika nie en is van mening dat die organisasie dit bloot doen om verlore aansien te herwin en nie omdat daar werklik berou bestaan oor die rasse-polarisasie wat aangerig is nie.

Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, het gesê dié Britse beeldpoetsermaatskappy se optrede, verskoning en selfondersoek is oppervlakkig en van dieselfde aard as die selfondersoek wat die Gupta-gekoppelde Trillian Capital Partners van stapel gestuur het het wat bloot gelei het tot ‘n onvolledige verslag weens die gebrek aan samewerking van talle mense binne die maatskappy.

Hy sê dit is deel van ʼn program van verontskuldiging wat niks met werklike inkeer en berou te doen het nie, maar bloot ‘n reaksie omdat hulle uitgevang is.

“Die VF Plus gaan daarom strafregtelike klagte van terrorisme teen Bell Pottinger indien in terme van die Wet op die Beskerming van die Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite, Wet 33 van 2004. Daar gaan gevra word dat Bell Pottinger se opdraggewende kliënte geïdentifiseer word en dat dieselfde klagtes ook teen hulle ondersoek word. Uit die #GuptaLeaks-e-posse blyk dit dat die Guptas en Duduzane Zuma, die president se seun, hierby betrek word,” het Alberts bygevoeg.

Hy het gesê die party het aan die hand van ʼn regsondersoek vasgestel dat enige optrede buite die grense van Suid-Afrika wat ‘n effek binne die land het, ingesluit is in die definisie van terrorisme. “Die VF Plus sal die Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, bewus maak van die klag en BP se optrede en sal hom versoek om ʼn ondersoek na BP in Brittanje te doen om vas te stel in watter mate BP die internasionale verhoudinge tussen Suid-Afrika en Brittanje vertroebel het deur in te meng in Suid-Afrika se huishoudelike sake in stryd met die internasionale reg.

“Daar moet ook vasgestel word of BP enige wetsoortreding binne Brittanje begaan het. Die VF Plus sal gebruik maak van sy bestaande verhouding met die Britse Konserwatiewe Party om die versoek aan Johnson te oorhandig.

“Gegewe die erg gepolariseerde omgewing in die land en die lostorring van sosiale kohesie het die VF Plus besluit om op te tree teen die skuldiges wat die verdelende en valse narratief van ‘wit monopolie-kapitaal’ in die Suid-Afrikaanse samelewing geplant het.

“Hierdie narratief se oogmerk was om enersyds verdeling te skep tot politieke voordeel van individue en ‘n sekere faksie in die ANC om in beheer te bly van die magshefbome, veral vir toegang tot die staatsbeursie, en andersyds om die aandag af te lei van die staatstroping wat op ‘n ongekende basis plaasvind.”

Alberts het gesê die stroping is só hewig dat Suid-Afrika se totale ekonomie skade ly weens verminderde belasting vir ontwikkeling, wanbestuur en die gevolglike kredietafgraderings.

“Dit is tyd dat die skuldiges wat wit en swart in Suid-Afrika teen mekaar opsteek en sodoende ware gesprekke oor die bou van goeie verhoudinge ondermyn, aan die kaak gestel word.”

Lees ook: Nuuskommentaar: Spur, Bell, Pottinger Verskonings Ingelyf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Geregtigheid ·

Baie dankie VF+ Dit is hoog tyd dat hierdie blinde Liberaliste ‘n bietjie vasgevat word.

onderdiearm ·

Om liberaal te wees beteken bloot om respek te hê vir ander se sienswyse. Om radikaal regs of links te wees is die oorsaak van die meeste blindheid en hulle is ‘cut from the same cloth ‘in my opinie. My hoop is dat BP krimineel vervolg word al is ek nou self liberaal

Jacques Venter ·

Geregtiheid
Wat verstaan jy onder die begrip “liberalis” ?

MCH ·

Baie goeie voetwerk om die klag in te dien en aan die groot klok te hang. BP is n groot maatskappy en sal dus hoogs besoldige kundiges in diens hê. Daar sal verseker ook n etiese beleid, visie en missie stellings wees. Dit is totale onsin dat die topbestuursvlak nie bewus was van presies die aard van die werk nie. Dis waarvoor gereelde vergaderings gehou word, vorderingsverslae ingedien word en fakturering gedoen word. Politici het in die verlede weggekom met die verskoning dat hul nie bewus was van hul stormtroepe se vergrype nie, maar die tyd is verby. Hierdie mense het presies geweet wat hul doen en verdien die ernstigste sanksie moontlik.

John ·

Die skade van leuens en verdagmakery is blywend, en dit weet Bell maar te goed, vandaar dat hulle die pot doelbewus misgesit het en nou kamma askies vra. Dis ook nie eerste soortgelyke opdrag wat die groep aanvaar het nie ~ sekerlik teen ‘n goeie paar £’e (gebleikte SA-belastinggeld?). Dis egter nie ‘n nuwe ding nie. Engelse en Franse sendelinge in SA wat eintlik die Woord moes verkondig het in die 1800’s honderde skrywes na Europa gerig om leuenstories te versprei (om goedkuns en finansiele bydraes te bekom) waarin die Boere liederlik beswadder is. Mosjesj se glo handtekening, ‘n X, onderaan briewe in hoogdrawende Engels (glo deur homself geskryf) is bell-/klok-slag gepos. Eerwaardes dr Philip van die Britse Genootskap en Rolland uit Frankryk was die voorbokke maar beide het, interessant genoeg, erg gely, voor hul afsterwe (?)…

Staal ·

Kla hul aan by Vereenigde Nasies,!veral as Brittanje nie hulle aankla nie. Dit is baie ernstige klag want hulle het beplan om genocide te fasiliteer, hoe ernstig is dit? Wat van internasionale strafhof? Beide ons en brittanje is deel daarvan mos. wat van ander internasionale liggame?

Antjie ·

Teenoor Boris Johnson. Ek dink op diplomatieke vlak kan Engeland gevra word vir hulp sáám na due VN. Dit sal Brittanje se betrokkenheid bykomend tot hul eie strafregtelike prosedures, versag, en Bell Pottinger isoleer, terwyl dit samewerking teen propaganda aspekte van alle vorme van terrorisme sal verbeter.

Ek dink ook liberalisme moenie uitgesluit word nie, want dit bly verstaanbaar dat erkenning van etiese en geregtelike grense juis vryhede daarbinne bevorder, nie andersom nie.

Piet Boer ·

Hoe ironies is dit nie? Die ANC gaan klop aan die deur van die oorspronklike vaders van apartheid om hulp! Wil die land regeer maar weet nie hoe om jou eie toespraak te skryf nie; let alone om dit nog te lees ook!
Ek hoop ek sien ‘n beter kiesstelsel nog in my generasie.

snoefie ·

weereens, klinkklare bewys dat kolonialisme nie teen die swartes (alleen) was nie. maar smartvraat moet hulle mos wees. sê hulle nou steeds alles omtrent kolonialisme was anti swart?

Jacques Venter ·

Ons grootste probleem is massiewe ongelykheid. Die Guptas het nie die probleem geskep nie, net BP gebruik om hulle eie streke weg te steek.

As die stof oor BP en die Guptas en die Zuma gaan lê het, gaan ons nog steeds die ongelykheid en wrewel daarom hê.

Baie dankie Verwoerd

Riaan ·

Wel gedaan, maar die mense wat die ‘beeldpoetsers’ aangestel het is tog seker meer skuldig as die beeldpoetsers self?

Johannes Meintjes ·

Dankie VF+. Maar hoe gebeur al hierdie dinge dan terwyl regering, groot politisie en groot kerkleiers (en die sluimerende massas) bloot toekyk of niks raaksien nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.