Strand-video: ‘Ek lag nog steeds’

‘n Skermgreep van Celine Edwards wat oor ‘n klip struikel tydens haar suster se verlowing.

Wat veronderstel was om ʼn romantiese oomblik vir ʼn jong paartjie op die strand te wees, het in ʼn skreeusnaakse internetsensasie ontaard toe een van die “videograwe” oor ʼn klip gestruikel het en daarna spartel om weer regop te kom.

Die video van Celine Edwards (23), wat per ongeluk haar ouer suster, Megan (26), se groot oomblik met haar lawwighede oorheers, het vandeesweek soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Die konsternasie het verlede week op Kogelbaai in die Wes-Kaap plaasgevind toe Ian Share (31) vir Megan wou verras met ʼn verlowing op die strand.

Celine vertel aan Maroela Media sy het niks van die verlowing geweet nie en is vertel hulle gaan net op die strand kuier. Sy het egter snuf in die neus gekry toe sy die musiek van die strand af hoor en het haar selfoon uitgehaal om ʼn video te neem toe sy besef Ian gaan die jawoord vra.

Dis tóé dat sy oor ʼn klip struikel en drie keer na mekaar val. In die voorgrond druk Ian deur met sy plan om ʼn ring aan Megan se vinger te steek.

“Ek het nie die klip gesien nie. Ek was net so opgewonde dat ek drie keer geval het,” vertel Celine laggend.

Aan die ander kant van die toneel het Ian se niggie, Robyn Booysen, geweet van die verlowing en het gereed gestaan om ʼn video te neem. Sy het die hele petalje vasgelê en dié video is saam met Celine sʼn die kuberruim ingestuur.

Die pret verdubbel dus wanneer jy die gedoente uit albei perspektiewe beskou. “Ek weet nie wie die video’s op Facebook geplaas het nie. Ons het dit vir vriende en familie aangestuur, maar toe ons weer sien het die video’s op Facebook versprei.”

Die musikant Appel het ook die video’s op sy Facebook-blad gedeel en baie reaksie uitgelok. “Die een ding wat ek altyd admireer is ons sin vir humor, maak nie saak hoe hierdie dame val nie, sy lag want sy weet dis net mens. Dis vir my inspirerend om te dink ʼn lag maak enige val sag! Welgedaan dame en geluk aan die paartjie wat verloof geraak het [sic],” het hy geskryf.

“Kyk dit is baie lelik om te lag vir iemand wat val, maar ek kan nie my lag hou daarvoor nie. En dan nog ʼn tweede, en ʼn derde keer val! Nee dit is vrek snaaks!” sê Jan van Zyl op Facebook.

“My dag is gemaak. As dit nie is hoe my verlowing gaan wees nie, then I don’t want it. Baie geluk julle,” skryf Charisa van Aswegen.

“Ek gee nie om as mense lag nie, ek het ook gelag en ek lag nog steeds saam. Dit was baie snaaks en dit is beslis ʼn dag wat niemand gaan vergeet nie,” sê Celine.

Kyk hier na die video’s:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Raakvatter ·

Nee wat, sy het op Jacaranda ook gepraat. Sy lag vir haarself en sê sy gaan die video by die troue ook wys. You go!!

Annelize ·

Sou sy gespot word sal dit net mense wees wat geen sin vir humor het nie, en ook nog nooit emosioneel volwasse geword het nie.

virginia ·

Dit het my dag gemaak, lekker om te lag. Baie geluk aan die paartjie. Ons wag vir die trou video :)

Patch ·

Hoe lekker lag ek nou. Hoop nie kleinsus is weer die videograaf nie… ☺☺☺☺ Beslis ‘n verlowing wat vir baie jare onthou sal word.

Asgat ·

Nou wonder ek net wie die derde persoon was wat alles opgeneem het…

sopbeen ·

Aan die ander kant van die toneel het Ian se niggie, Robyn Booysen, geweet van die verlowing en het gereed gestaan om ʼn video te neem.

Misky ·

Baie snaaks en goeie ding as mens nog vir jouself kan lag. Baie geluk aan die paartjie en begin jul pad saam met ‘n glimlag :-)

Lee ·

Baie geluk met die verlowing. Ek kon nie help om te lag vir die fotograaf se penarie nie. Gelukkig het sy saam gelag.

Moedeloos ·

Nee kyk hoe lekker lag ek nou veral by daai laaste val. Plat op die gat en neem maar die video.

Diana ·

Dis nou n ja-vraag om te onthou!!! Baie geluk aan die paartjie.

LANA is ELANè ·

Vet boerepret in Afrika, dit is baie snaaks en dat ons daaroor as ‘n nasie lag, is snaakser. Voorwaar ‘n verlowing wat nooit ooit vergeet sal word nie, selfs deur onbekende mense wat lekker gelag het vir die dame se gevallery op die strand. Ek het eers gedink dit is die wind wat so erg waai, nou verstaan ek dit is ‘n klip en ‘n gelag se skuld dat een mens driekeer agtermekaar neerslaan.

Saam gelag, nie “vir” haar gelag nie, groot verskil.

Petrus ·

Lekker om iets te sien waaroor ons saam kan lag. Baie geluk aan die paartjie. Die man het hom nie van stryk laat bring nie, hy het net oë vir sy aanstaande gehad. Mag dit vir die res van hulle lewens so wees.

mynie ·

Ek het so by die JHB dieretuin geval. Drie in n ry. Struikel oor n paving blokkie wat deur n boomwortel gelig is, herwin balans, 2 tree verder selfde storie, dan begin jy spoed optel. Met die volgende tree tref jy nog n paving blokkie en dan hardloop jy handeviervoet teen 50km per uur. Totdat jy neerslaan. Flenters, vol bloed en skrape, gebreekte groottoon van die final impact teen die boomwortel en paving blokkies wat 30cm bo die grond uitstaan. My mense maak hulle nou nog nat as hulle daarvan praat. My dogter se eerste reaksie was: daai was mamma……..

Misky ·

Dankie Mynie en jy my kliphard laat lag en ek sien al die prentjie voor my afspeel!!!!! Ha ha ha, my suster ook eenkeer so geval by die kerk basaar. Groot grap tot vandag toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.