Strand vir honde gesluit ná hulle pikkewyne byt

Afrika-pikkewyn (Foto: WhaleWatchSA)

Afrika-pikkewyn by Boulder’s Beach in Simonstad (Foto: WhaleWatchSA)

Die stad Kaapstad het ʼn tydelike verbod op honde geplaas tussen Burghers’ Walk en Links Crescent in Simonstad, Kaapstad, nadat agt bedreigde Afrika-pikkewyne binne twee dae daar doodgebyt is.

Die stad het inwoners en besoekers versoek om seker te maak dat honde aan leibande en onder beheer gehou word op die stuk tussen Links Crescent-Suid tot by Fisherman’s Beach.

Die pikkewyne is op 19 en 20 Augustus doodgebyt.

Raadslid Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir energie en omgewingsake het gesê daar is ongeveer 982 neste in die omgewing en 109 van hierdie neste is al langs Burgers’ Walk geleë.

“Die Afrika-pikkewyn is ʼn bedreigde spesie volgens die Internasionale Bewaringsunie (IUCN), met ʼn bestendige afname in getalle oor die afgelope dekade,” het Van der Merwe gesê. “Daar is na raming slegs 2.5% van hierdie spesie oor in vergelyking met ongeveer 80 jaar gelede.”

Volgens hom het die departement van omgewingsake kragtens sy biodiversiteitbestuursplan vir die Afrika-pikkewyn wat in Oktober 2013 gepubliseer is, ʼn verpligting om voorsorgmaatreëls te tref om pikkewyne op die stad se eiendom te beskerm – veral tydens paar- en broeityd.

Hierdie maatreëls sal ingestel bly tot verdere kennisgewing.

Honde-eienaars en persone wat met hul honde stap word versoek om verantwoordelik op te tree.

“Lede van die publiek wat honde sonder leibande in die Burgers’ Walk-gebied opmerk, word versoek om dit aan te meld by 021 596 1999.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Sommige mense gee darem regtig nie ‘n flenter om nie. Mense, wil julle nie hierdie pikkewyne ook maar hulle stukkie aarde gun nie. As julle moet gaan stap met die brak, hou hom ten minste aan ‘n leiband, for crying out loud !

Winston ·

Ja werlik Deon. Dis mos maklik om beheer oor jou brak toe te pas. Voëls is reeds so kwesbaar. Nog erger die wat nie kan vlieg nie.

neelsie ·

Dankie vir die optrede.
Ons is ook honde-liefhebbers maar sulke dinge mag nie toegelaat word nie.
Die honde eienaars langs die kus maak asof die strand aan hulle behoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.