
Die boggelrugwalvis wat in Desember 2015 by Strand in Kaapstad uitgespoel het Foto: Terina le Roux
Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Donderdag die span gelukgewens wat ʼn 13.5 meter lange walviskarkas van 25 ton van Strand in Kaapstad verwyder het.
“Dit was vir ons almal ontstellend om dié majestueuse dier uitgespoel op die strand te sien,” het sy gesê. “Ek wil graag ons spanne loof dat hulle vinnig opgetree het om ook die moontlike oorsaak te ondersoek waarom die walvis gestrand het.”
Maroela Media het vroeër berig dit was ʼn groot uitdaging om die tamaai vroulike boggelrugwalviskarkas te verwyder. Die proses het Woensdag begin nadat die departement en die stad Kaapstad oor die karkas in kennis gestel is.
Zolile Nqayi, woordvoerder vir die departement, het gesê die nodige monsters is ook versamel en sal getoets word. Nqayi het verduidelik ʼn span navorsingtegnici van die departement se Kus- en Oseane-afdeling is na die toneel ontbied. “Gebaseer op voorlopige en beperkte toetse, wil dit voorkom of sy aan natuurlike oorsake gesterf het.” Nqayi het gesê daar is geen tekens dat sy iewers verstrengel geraak of beseer is deur ander diere nie, en daar is geen ooglopende tekens dat sy ʼn skip getref het nie.
Dit wil ook voorkom of die walvis nie besig was om ʼn kalfie te soog nie en sy is ʼn ouerige walvis.
Verdere toetse word ook op die karkas uitgevoer.
Werkers kon Woensdag daarin slaag om die 25 ton-karkas op ʼn insleepvragmotor gelaai te kry, en het Donderdag die vrag gestabiliseer voordat dit na die Vissershok-stortingsterrein vervoer kon word.
Die strand bly gesluit vir swemmers, aangesien bloed en olie van die walvis ʼn veiligheidsrisiko inhou.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Goed om te sien dat die saak spoedig opgelos is
Ek hoop hulle sleep die walvis uit op die see sodat die ander predatore daaraan kan eet. Dis deel van die ekologie en natuurlike voedselketting
‘n Makliker oplossing sou wees drie stukke Dinamiet in die vis ingedruk en dan eet die voeëls en ander vis naby ook sonder mors van geld en tyd.
Dis nou maar die verloop van die lewe en dis daarom so hartseer om die walvis dood te sien maar mens, wat ‘n indrukwekkende spesie!
Net vir lesers wat dalk nie bewus daarvan is nie – die Strand is nie IN Kaapstad nie, maar redelik ver daarvandaan. Beter bekend dalk as Melkbaai of Somerset-Strand. Ongeveer so 60 kilometer vanaf Kaapstad. Vanaf Stellenbosch se kant af, lê die Strand, net voor Gordonsbaai……. Die berig skep mag dalk ‘n verkeerde indruk skep…….