Strand-walvis glo aan natuurlike oorsake dood

Die boggelrugwalvis wat in Desember 2015 by Strand in Kaapstad uitgespoel het Foto: Terina le Roux

Die boggelrugwalvis wat in Desember 2015 by Strand in Kaapstad uitgespoel het Foto: Terina le Roux

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Donderdag die span gelukgewens wat ʼn 13.5 meter lange walviskarkas van 25 ton van Strand in Kaapstad verwyder het.

“Dit was vir ons almal ontstellend om dié majestueuse dier uitgespoel op die strand te sien,” het sy gesê. “Ek wil graag ons spanne loof dat hulle vinnig opgetree het om ook die moontlike oorsaak te ondersoek waarom die walvis gestrand het.”

Maroela Media het vroeër berig dit was ʼn groot uitdaging om die tamaai vroulike boggelrugwalviskarkas te verwyder. Die proses het Woensdag begin nadat die departement en die stad Kaapstad oor die karkas in kennis gestel is.

Zolile Nqayi, woordvoerder vir die departement, het gesê die nodige monsters is ook versamel en sal getoets word. Nqayi het verduidelik ʼn span navorsingtegnici van die departement se Kus- en Oseane-afdeling is na die toneel ontbied. “Gebaseer op voorlopige en beperkte toetse, wil dit voorkom of sy aan natuurlike oorsake gesterf het.” Nqayi het gesê daar is geen tekens dat sy iewers verstrengel geraak of beseer is deur ander diere nie, en daar is geen ooglopende tekens dat sy ʼn skip getref het nie.

Dit wil ook voorkom of die walvis nie besig was om ʼn kalfie te soog nie en sy is ʼn ouerige walvis.

Verdere toetse word ook op die karkas uitgevoer.

Werkers kon Woensdag daarin slaag om die 25 ton-karkas op ʼn insleepvragmotor gelaai te kry, en het Donderdag die vrag gestabiliseer voordat dit na die Vissershok-stortingsterrein vervoer kon word.

Die strand bly gesluit vir swemmers, aangesien bloed en olie van die walvis ʼn veiligheidsrisiko inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jacques ·

Ek hoop hulle sleep die walvis uit op die see sodat die ander predatore daaraan kan eet. Dis deel van die ekologie en natuurlike voedselketting

Ben ·

‘n Makliker oplossing sou wees drie stukke Dinamiet in die vis ingedruk en dan eet die voeëls en ander vis naby ook sonder mors van geld en tyd.

Chris ·

Hulle gebruik die metode baie maar in die geval sou dit nie goed wees nie aangesien dit n swemstrand is en hulle dit so spoedig moontlik weer wil oopstel vir die publiek.

Yvonne ·

Dis nou maar die verloop van die lewe en dis daarom so hartseer om die walvis dood te sien maar mens, wat ‘n indrukwekkende spesie!

Kapenaar Gebore ·

Net vir lesers wat dalk nie bewus daarvan is nie – die Strand is nie IN Kaapstad nie, maar redelik ver daarvandaan. Beter bekend dalk as Melkbaai of Somerset-Strand. Ongeveer so 60 kilometer vanaf Kaapstad. Vanaf Stellenbosch se kant af, lê die Strand, net voor Gordonsbaai……. Die berig skep mag dalk ‘n verkeerde indruk skep…….

Hermann ·

Wil net se dat die uitsleep en laai van die boggelrug walvis op somerset strand uiters onprofessioneel uitgevoer is en seker 80% langer geneem het om uit te voer agv geen/ swak beplanning .
Daar was geen persoon wat geweet het wat om te doen nie en na walvis op die wegsleep voertuig gelaai is kon hul eers omtrent 16 ure daarna wegry met stinkende walvis.
Die minister word aangehaal dat uitstekende werk gedoen met die verwydering van walvis wat regtig n grap is.
Ons wat so die hele petalje waargeneem het vanaf vroeg die oggend toe die walvis uitgespoel het op die rotse tot met die vertrek van die walvis op die sleep voertuig kon net lag vir die onbeholpenheid van die sogenaamde kenners wat nie geweet het wat om te doen nie.
Al wat hul moes gedoen het was om die walvis diep see ingetrek het,en met n dinamiet lont of twee ogeblaas het . Dan was daar genoeg kos vir talle seevoels en roofvisse .
Nou se die minister die walvis episode is professioneel uitgevoer— net so professioneel soos president Zuma die minister van finansies op sy eie verwyder het.
Lyk my die minister en haar president hoort toekennings te kry vir hul uitlatings.

Millie ·

16 uur wat walvis op n lowbed trailer langs strand by somerset strand gele en stink het is nie volgens my vinnige werk nie.
Saak swak hanteer .
Byna almal wat daarna gekyk het ( vakansie gangers en inwoners) was dit eens dat werk slordig hanteer is en dat walvis eerder diepsee in moes gesleep was en opgeblaas moes word vir voedsel vir roofvisse en see voels.
Millie / somerset strand

Hermann ·

Stem saam met millie. Ons was ook daar by die stinkende walvis wat langer as 16 uur op die sleepwa gele en stink het terwyl niemand n poging aangewend het om dit weg te sleep.
As dit vinnige optrede is weet ek nie wat normale optrede is nie.
Intussen het die stank oral in die omgewing gebly en was swem oogeskort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.