Strandbetogings: Dalk nóg meer burgerlike opstand teen regulasies

Talle mense het die naweek na strande by onder meer Langebaan opgeruk. Die strande is ingevolge die afsonderingsregulasies gesluit. (Foto: Facebook)

Nadat honderde mense die afgelope naweek op strande byeengekom het om te betoog teen die sluiting van strande – ingevolge die Covid-19-afsonderingsregulasies – waarsku sommige kenners nóg burgerlike ongehoorsaamheid teen sekere afsonderingsmaatreëls kan volg.

Mense het die afgelope paar dae na strande by onder meer Langebaan en Muizenberg opgeruk om hul misnoeë te kenne te gee met die sluiting van strande. Vlak 3 van die afsonderingsregulasies plaas ʼn verbod op byeenkomste in openbare ruimtes, waaronder die meeste strande.

Die EFF in die Wes-Kaap het die betogings skerp veroordeel “omdat Covid-19-gevalle in die provinsie steeds styg” en het gekap na wetstoepassers wat versuim het om die regulasies af te dwing.

“As die meerderheid van hierdie betogers swart was, sou hulle in hegtenis geneem word en daar sou op hulle geskiet word,” het die rooi barette gesê.

Die ANC het dié sentiment gedeel en het luidens berigte ʼn beroep op die provinsiale polisiehoof gedoen om die organiseerders van die betogings in hegtenis te laat neem en te verseker hulle verskyn so gou doenlik in die hof. Die ANC in die provinsie het ook gevra dat die maksimum straf vir die verbreking van die afsonderingsregulasies en vir die aanhitsing van ander mense om die regulasies te oortree, opgelê word.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het intussen gesê werksgeleenthede moet gered word deur huidige beperkings op te hef wat die toerismebedryf en strandekonomie in die Wes-Kaap nog steeds skade berokken.

Suid-Afrikaners is nou al langer as 300 dae onderhewig aan die een of ander vorm van inperking en talle van die regering se regulasies wat sedert die uitbreking van Covid-19 in werking gestel is, is as hopeloos irrasioneel bestempel.

Dit sluit in ʼn tydelike verbod op die verkoop van sekere kledingstukke, soos plakkies. Die destydse verbod op die verkoop van gaar hoenders het ook ʼn reuseherrie veroorsaak.

Wedersydse gesprek nodig

Betogers stap die afgelope naweek op ‘n strand in Langebaan. (Foto: Facebook)

Chris Hattingh, ʼn projekbestuurder by die Vryemarkstigting, het by navraag gesê daar kan beslis meer burgerlike opstand teen sekere regulasies verwag word.

“Sommige mense in die regering doen hul bes om te verseker Suid-Afrika is veilig wat Covid-19 betref, maar die regering bemoeilik sy eie saak met sekere regulasies.

“Mense moet vir hulself besluit watter gevare hulle bereid is om te loop. Ek dink die regering moet versigtiger wees met regulasies.”

Hattingh waarsku boonop dat mense in beknopte ruimtes bymekaarkom wanneer hulle verbied word om ruimtes soos strande te gebruik.

“Mense wil op ʼn manier terugkeer na hul normale lewensbestaan, met sekere maatreëls wat geld.”

Hy sê die regering kan aanhou om strenger maatreëls in te stel, maar dat dit mense eindelik kan aanspoor om selfs meer regulasies te verontagsaam. “Mense kan hulle al hoe meer begin verset teen die regulasies – dis ʼn natuurlike proses – en hulle moet eerder self besluit wat in hul beste belang is.”

Hattingh sê dis nou byna ʼn jaar sedert die afsonderingsregulasies die eerste keer in werking gestel is en dat daar nou veel meer inligting oor die virus bekend is.

“Aanvanklik was dit vir regerings wêreldwyd baie moeilik, maar daar moet nou ʼn wedersydse proses wees.

“Die regering kan nou nie meer net sê ‘ons is die regering en ons weet die beste nie’,” sê Hattingh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Watter regulasies?

Jessey

So as ek die artikel reg lees dan stem die ANC saam met die EFF dat die ANC rassisties optree teen Nie-Blanke mense. NOU HOE NOU GEMAAK? Maar nou hoor ‘n mens ook nie dat hierdie mense enigiets afgebreek het deur ‘n vreedsame verset nie. So weereens, die EFF sou verkies het dat hulle vreedsame mense met skok granate skiet? Of het ek nou die Kat aan die stert beet hier? Ai en dan durf hulle boonop nog Plakkies op die strand dra. Wat se die Minister daarvan? Julle Stoute Kapenaars. Maar ek is amper 100% oortuig dat elkeen wat… Lees meer »

Warren

En nou raak dit n rasse ding. Lekker skietgoed vir die EFF of ANC militêre jeugvleul.

Renier johannes

Hulle sal nou n bek vol he want hulle te bang om so iets te doen

Marcia

hoeveel matriek vakansiegangers is toegesluit, los die mense uit op die strande , vars lug en oopte is gesond