Strande betyds oop vir Durban July

strand_sand_golwe_pixabay.jpg

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Talle strande aan die kus van KwaZulu-Natal is Vrydag weer oopgestel – net betyds vir die jaarlikse Durban July-perdewedren die naweek.

Van die strande aan die kus is verlede maand gesluit nadat gevaarlike vlakke van die bakterie E. coli in die water gevind is. Die bakterie, wat onder andere diarree kan veroorsaak, is gewaar ná die verwoestende vloede vroeër vanjaar.

Die eThekwini-munisipaliteit, wat gebiede in en om Durban bedien, het Vrydag die welkome nuus met inwoners, vakansiegangers en aanhangers van Durban July gedeel.

“Nadat die jongste watergehalteresultate ontvang is, het die munisipaliteit besluit om van sy strande vandag weer vir die publiek oop te stel,” sê Msawakhe Mayisela, woordvoerder van die munisipaliteit.

“Die onlangse watertoetse wys dat die E. coli-vlakke weer binne die aanvaarbare standaarde is.”

Die publiek kan daarna uitsien om die komende naweek wateraktiwiteite by die volgende strande te geniet:

  • Amanzimtoti
  • Warner
  • uMgababa
  • uMhlanga Rocks
  • Umdloti
  • Addington
  • Bronze
  • Bay of Plenty
  • Wedge
  • North
  • Country Klub
  • uShaka
  • Battery
  • South
  • Vetch se pier.

Hoewel al dié strande se E. coli-vlakke eindelik genormaliseer het, is daar wel nog ʼn paar strande in die munisipaliteit wat steeds gesluit is. Die volgende strande is steeds vir swem gesluit, maar kan wel vir godsdienstige en geestelike rituele gebruik word, asook om met honde op die strand te stap en vir visvangdoeleindes.

  • uMkomaas
  • uMhlanga Rocks-vuurtoring
  • Beachwood Mangrove
  • uMdloti‑getypoel
  • Casuarina in oThongathi
  • Granny’s Pool
  • Beachwood
  • eThekwini

“Owerhede sal voortgaan om die res van die betrokke strande te monitor en die publiek oor die stand van sake in te lig sodra die E. coli-vlakke gedaal het tot ʼn standaard wat veilig is vir die publiek,” sê Mayisela.

Intussen stroom Suid-Afrikaners van oral oor die land na Durban toe vir die jaarlikse Durban July- perdewedren.

“Ná twee jaar wat die perdewedren agter geslote deure plaasgevind het, het die onlangse opheffing van die pandemieregulasies tot gevolg gehad dat die deure vanjaar oopgegooi kan word vir aanhangers van perderesies en modeliefhebbers,” het die organiseerders van die geleentheid gesê.

Dié wedren sal Saterdag by die Hollywoodbets Greyville-renbaan plaasvind. Meer as 35 000 mense sal na verwagting die geleentheid bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

re: ‘Strande betyds oop vir Durban July’
Ek woon op een van hierdie strande en behoort te weet warvan ek praat.
Ek belowe julle die Durban July is op Greyville, etlike kilometer vanaf die strand(e)’
en niè op die strand. Wees hier! Woon dit by! Kom Kuier vir ons!:-) Trek jou nuuste rokkie aan:=)))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.