Strande: Hofaansoek aangehoor, Dlamini-Zuma staan dit teen 

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: @SAgovnews/Twitter

Die hofaansoek om die sluiting van die land se strande as ongrondwetlik te verklaar, word Dinsdag aangehoor.

Die aansoek is ingedien namens die Grootbrakrivier-sakeforum, Louis Cook, ʼn gastehuiseienaar en voorsitter van die Gastehuisgilde van Mosselbaai, en AfriForum as derde applikant. Dit gaan oor die besluit om strande in die Tuinroete-distrik, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gedurende die feestyd te sluit.

Die DA het ook hofstukke by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien teen die regering se besluit om die Tuinroete se strande vir die feestyd te sluit terwyl die Kouga-munisipaliteit ʼn dringende hofaansoek ingedien het waarin versoek word dat die besluit om alle strande in die Oos-Kaap te sluit, omgekeer word.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, staan die aansoeke teen.

Dlamini-Zuma voer onder meer in haar beantwoordende verklaring aan dat die land tans ʼn tweede golf van Covid-19-infeksies beleef wat vererger word deurdat Suid-Afrika nou in die feestyd is. Mense is met verlof en dit is ook ʼn tyd waarin mense vierings en partytjies hou. Volgens die minister het die regering ʼn plig teenoor alle Suid-Afrikaners om ʼn balans te skep, die ekonomie te ondersteun en terselfdertyd lewens te red. Dit behels dat die gesondheidsorgstelsel doeltreffend funksioneer en daarom moet alle pogings aangewend word om hospitaalopnames en traumagevalle so laag moontlik te hou.

Dlamini-Zuma voer aan dat die beperkings net tydelik is en dus net ʼn beperkte invloed op mense se reg op vryheid van beweging het. Die beperking op toegang tot strande moet nie geïsoleerd beskou word nie aangesien die gewysigde regulasies volgens die minister ten doel het om geleenthede wat binne én buite plaasvind te beperk. Daar is steeds in albei gevalle ʼn vlak van risiko vir die verspreiding van Covid-19.

Foto: Kouga-munisipaliteit/Facebook

Mense gaan gewoonlik nie alleen strand toe nie en dit is dikwels ʼn groepaktiwiteit, voer die minister aan. Sommige strandgangers ry met hul eie voertuie terwyl ander van openbare vervoer gebruik maak wat die risiko van infeksie kan verhoog. Om op die strand te wees beteken nie noodwendig dat daar net geswem en gesonbrand word nie, maar behels ook meer voete in omliggende gebiede wat weereens die risiko van infeksie verhoog. Om op die strand te wees is ʼn sosiale aktiwiteit wat menslike wisselwerking verhoog.

Dlamini-Zuma voer verder aan dat die Rampbestuurwet nie voorsiening maak vir ʼn openbaredeelnameproses voor regulasies afgekondig word nie en dat sy slegs met die relevante kabinetsministers moet oorleg pleeg, wat sy gedoen het.

Volgens Dlamini-Zuma het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, teen einde November met die premiers in brandpunte begin gesels en het die gesprekke in Desember voortgegaan. Die kwessie van openbare byeenkomste, superverspreider-geleenthede en die sluiting van strande is bespreek.

Rakende die Noord-Kaap is daar weens die lae infeksiekoers ʼn voorstel om die provinsie se strande oop te hou. Die Wes-Kaap het verkies om sy strande oop te hou terwyl die Oos-Kaap aangedui het dat hy verkies om sy strande te sluit weens die toename in positiewe Covid-19-gevalle en die druk wat dit op die gesondheidsorgstelsel geplaas het. KwaZulu-Natal het aangedui dat hy verkies om strande net op sommige dae te sluit.

Die ministeriële advieskomitee is genader vir sy insette rakende die sluit van strande. Die opsies wat geïdentifiseer is, is dat alle strande vir die duur van die vakansietydperk gesluit word (byvoorbeeld 16 Desember tot 3 Januarie), dat strande net op sekere dae gesluit word wanneer groot skares verwag word (16, 24, 25, 26 en 31 Desember en 1 Januarie) of dat munisipaliteite self kan besluit en spesifieke strandsluitings self kan bestuur.

Die nasionale Covid-19-bevelsraad en die presidensiële koördineringsraad het ook hieroor vergader waarna dit na die kabinet verwys is en daar op die huidige regulasies besluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.