Strandgangers gewaarsku ná haai roei-ski byt

ʼn 2,5 m lange withaai het na bewering ‘n gat in die romp van die roei-ski gebyt. Foto: NSRI.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het swemmers, roeiers en ander seegebruikers Sondag gewaarsku om bedag te wees op haai-aktiwiteit naby die kuslyn, veral dié tyd van die jaar.

Dít kom ná ʼn voorval Sondagoggend aan die kus by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap waartydens ʼn roeier daarin kon slaag om ongedeerd te ontsnap ná ʼn haai sy roei-ski aangeval het.

Die NSRI in Plettenbergbaai is om 09:40 van die voorval ingelig danksy ʼn ooggetuie wat gesien het hoe ʼn man van sy roei-ski gestamp is deur ʼn haai wat glo onder die roei-ski gegaan het en ʼn gat daarin gebyt het.

Robbie Gibson, die plaaslike NSRI-stasiebevelvoerder, het gesê toe hulle by die toneel opdaag, het hulle ʼn 33-jarige man veilig op die strand aangetref ná ʼn haai, na bewering ʼn 2,5 m lange withaai, ʼn gat in die romp van die roei-ski gebyt het terwyl hy geroei het.

Volgens Gibson het die man sy balans verloor en in die water beland. Hy het na die kus geswem, op rotse geklim en is nie tydens die voorval beseer nie.

Die NSRI kon daarin slaag om sy roei-ski uit die water te haal en het hom na Wreck-strand vervoer waar sy motor geparkeer was.

Die NSRI het ʼn beroep op swemmers en roeiers gedoen om veral dié tyd van die jaar bedag te wees, aangesien haaie as deel van hul natuurlike voedingspatrone al nader aan die kus kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

bloues ·

Ek swem nie in die see nie en laat geen haaie in my erf toe nie.
Maklik!

Nettie ·

@blouse – ek stem saam: ek bly uit die see uit en verban alle haaie uit my erf uit; ook die swart-en-wit-sort wat die Stormers Saterdag om hul dinges gegee het …..

E.K. die eerste ·

bloues – ek stem. Ek sê nog altyd ek respekteer hulle so baie – ek gaan nie in hulle gebied en hulle bly ook weg van die land af, so dis ‘n wedersydse storie en dit werk!

Hansie ·

Die probleem le in die feit dat die haaie al meer die mens met kos assosieer as gevolg van duik en tv spanne wat hul voer om te verfilm

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.