Strategie om ooreenkoms in staalbedryf te bereik

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die vakbond Solidariteit het vandag sy strategie bekendgestel om ʼn ooreenkoms in die beleërde staalbedryf te bereik.

Dit volg nadat loononderhandelinge tussen vakbonde en werkgewers in die bedryf sowat drie weke gelede ʼn dooiepunt by die MEIBC bereik het. Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, is Solidariteit vasbeslote om vir ʼn skikking te onderhandel. “ʼn Staking sal die staalbedryf en die bedingingsraad groot skade berokken en kan veroorsaak dat werkgeleenthede verlore gaan,” het Croucamp gewaarsku.

Croucamp wys daarop dat Solidariteit ʼn drieledige strategie volg om die aangeleentheid te hanteer. Daarvolgens word die bedingingsraad in die eerste plek versoek om die onderhandelinge te verleng. “Die versoek skep die ruimte vir partye om in te stem voordat onderhandelinge verleng kan word. Indien die partye nie instem nie, sal Solidariteit die KVBA nader om in te gryp en die partye by mekaar te kry om ʼn loonskikking te onderhandel,” verduidelik Croucamp.

As deel van die strategie tree Solidariteit vandag in bilaterale gesprekke met werkgewer-organisasies om die idee van ʼn loonskikking te bevorder.

Volgens Croucamp fokus die derde aspek van die strategie op gesprekke met klein- en medium-ondernemings wat bekommerd is oor hul toekoms as ʼn staking sou voortgaan. “Verskeie bekommerde eienaars van ondernemings het ons genader oor die impak wat ʼn moontlike staking op hul volhoubaarheid sal hê,” het hy gesê. “Dit is belangrik dat slegs een bedryfsooreenkoms deur alle partye in die bedryf geteken word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.