Streepsuiker vir ANC-regering oor arbeid en werkskepping

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Lanklaas is die ANC-regering so hard uitgetrap soos Dinsdag in die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid en werkskepping – en lanklaas het die ANC so min ter verdediging gesê.

Met die minister, Thulas Nxesi, platgetrek deur die koronavirus, moes die adjunkminister, Boitumelo Moloi, vir hom instaan.

Volgens haar is die regering tevrede met die departement van arbeid se vertoning, en het entiteite van die departement 6 000 stelle beskermende mediese drag vervaardig. Daar was ook die afgelope jaar min stakings.

Nietemin het Moloi toegegee dat die land al swakker vaar in die wêreld-produktiwiteitsindeks, en dat dit bydra tot armoede, werkloosheid en ongelykheid.

Die begroting van die departement van arbeid en werkskepping was aanvanklik R3,6 miljard in die Februarie-begroting, maar dit is in die nuwe begroting met R262 miljoen, of 7,2%, verminder.

‘n Prioriteit wat deur Moloi uitgelig is, is dat meer arbeidsdienste van die regering aanlyn moet plaasvind.

Sowel die DA as die EFF en die VF Plus het die departement van arbeid en werkskepping se naam bestempel as ’n politieke grap in swak smaak, gegewe die stygende werkloosheidsyfer en verminderende werkgeleenthede.

Dr. Michael Cardo, DA-LP, het gesê werkloosheid het sedert die “werkskepping”-deel by die departement van arbeid se mandaat gevoeg is, toegeneem van 10 miljoen tot 13 miljoen, en dit kan tot 17 miljoen styg.

“Dit is ’n tikkende tydbom wat ons gemeenskap uitmekaar kan skeur,” het Cardo gewaarsku.

“Die ANC is besig om die ekonomie te vernietig; des te meer so as die nuwe Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid, wat hierdie week gepubliseer is, sou wet word. Nogmaals versterk dit die minister se drakoniese magte om op rasgrondslag mense te teiken eerder as om werkskepping te bevorder.

“Intussen word ons by die DA daagliks oorval met honderde navrae van huilende ouers wat nie kos op die tafel kan plaas vir hul kinders nie omdat die departement van arbeid net te sleg is om die TERS-toelaes uit te betaal.

“Al is daar nog meer as ’n miljoen TERS-toelaes vir Mei uitstaande (en ons nader nou al die einde van Julie!), is al wat die minister kan doen om werkgewers verkeerdelik te beswadder eerder as om sy werk te doen,” aldus Cardo.

Cardo se kollega, die DA-LP Michael Bagraim, het die toestand van die Vergoedingsfonds betreur, en gesê die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) is die volgende wat gaan val omdat die regering te slap is om vir die toename in KVBA-sake weens die toename in afleggings te begroot.

Namens die EFF het Natasha Ntlangwini uitgewys dat die werkloosheidskoers tydens die Ramaphosa-bewind van skaars twee en ’n half jaar van 27,2% tot 30,2% gestyg het.

“Om hierdie begrotingspos te steun sal wees om mislukking te steun, en dit sal die EFF nie doen nie,” het Ntlangwini gesê.

Heloise Denner, VF Plus-LP, het gesê daar is geen groei in indiensneming nie.

“Dis die private sektor wat werk skep, maar hulle word voortdurend deur die owerhede tot sondebok gemaak.”

Denner het gesê dit bly pateties dat net 47% van staatsdienskantore aan die inperkingsmaatreëls voldoen, terwyl die private sektor se syfer soveel hoër is.

“Suid-Afrika is besig om ’n welsynstaat te word, met meer ontvangers van toelaes as mense wat werk. So kan geen land vooruit gaan nie,” het sy gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Wat verwag hulle! Dis mos lekkerder om niks te doen nie en dan nog toelaes te onvang. En die wat wel werk, veral in die staatsdiens, is net daar vir die geld. Nie almal nie, maar baie. Doen niks en kry vet salaris. Mag nie afgedank word nie en meer bevoegde mense mag nie aan gestel word nie. Verder dink hulle hulle bewys jou ‘n guns maar hulle dink nie waar die geld vandaan kom nie. En dan eis hulle verhogings. Hierdie land is so siek van korupsie. Die ekonomie is so in sy kanon in en hulle sien geen probleme.

Sarel ·

DievPolitikus mask beloftes maar rus nie sy Deot
Se mense toe om dit tot uitvoer te bring nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.