Streng hofveiligheid vir ‘terreur-tweeling’

Brandon-Lee Thulsie en Tony-Lee Thulsie. Foto: Facebook

Brandon-Lee Thulsie en Tony-Lee Thulsie. Foto: Facebook

Die borgtogaansoek van die 23-jarige tweelingbroers, Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, wat vroeër vandeesmaand op terreuraanklagte in hegtenis geneem is, is Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.

Die tweeling, waarvan een vir Discovery gewerk het, is op 10 Julie saam met twee ander verdagtes deur die Valke in Newclare en Azaadville in Johannesburg in hegtenis geneem. Die vier verdagtes het glo beplan om na Sirië te reis om by die Islamitiese Staat (Isis) aan te sluit.

Die staat beweer die twee broers het saamgesweer om die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings in Suid-Afrika namens Isis op te blaas. Hul borgtogaansoek is Dinsdag uitgestel, nadat nuwe regsverteenwoordigers vir hulle aangestel is.

Sekuriteit in en om die hof is ooglopend verskerp en van die tweeling se familielede was in die hof om hulle te ondersteun. Die broers het kalm voorgekom en vir hul familie in die openbare galery geglimlag.

Adv. Chris Mac Adams, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê ʼn nuwe regsverteenwoordiger is vir broers aangestel omdat hul vorige regsverteenwoordiger nie beskikbaar was nie. Landdros Pieter du Plessis het gesê die vorige regsverteenwoordiger kan by die volgende hofverskyning van die saak onttrek.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die NVG sal die verdagtes se borgtogaansoek teenstaan. “Die beskuldigdes word aangekla van ernstige oortredings en ons sal borgtog teenstaan. Die staat sal getuies voor die hof bring en verklarings aan die hof voorlê indien nodig, maar ons wil nie die manier waarop die hof bewyse sal aanvra, vooruit loop nie,” het Louw gesê.

Sy het gesê daar is geen bewyse wat die tweeling se saak verbind met die ander twee verdagtes wat in die Kagiso-landdroshof sal verskyn nie. Die man en vrou, voorheen geïdentifiseer as ʼn Patel-broer en suster, is in hegtenis geneem nadat ʼn skokgranaat en 20 patrone in hul huis in Azaadville gevind is.

“Tans is daar geen bewyse wat [die twee sake] verbind nie, daarom word hulle apart aangekla. Die ondersoek sal ons lei hoe om die saak vorentoe te hanteer. Ons het rede om te glo dat die [Thulsie-broers] misdade gepleeg het en kan daarom voortgaan met hul vervolging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liewe heksie ·

Ek sê mos daar waar daar n rokie trek daars n vuurtjie

Nog so jonk! ·

Die twee seuns is nog so jonk en gooi hulle lewe weg en vir wat??! Sterkte vir julle ouers wat nou die gevolge id gesig moet staar!

Johan 2 ·

Dit is baie hartseer om te sien hoe desperaat die mense geword het om onder die VSA en kie se onderdrukking uit te kom.

Mariana ·

Ag Johan 2 van watse onderdrukking van die VSA praat jy tog man. Hierdie mense besluit self om hierdie aller verskriklike wrede terroristiese dade wat hinderde onskuldige mense dood of ernstig beseer agterlaat te pleeg.

Karma ·

Ag, jeez, Johan, waste verdrukking van Amerika en kie? Word ons as wit SAners nie méér onderdruk onder die vlaag van misdaad en korrupsie deur die ANC nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.