Strenger Covid-19-maatreëls dalk vanaand al aangekondig

(Foto: Unsplash)

Pres. Cyril Ramaphosa het vir vanmiddag twee-uur ‘n vergadering van belanghebbendes en rolspelers in die stryd teen die Covid-19-pandemie belê, met alle aanduidings dat die snel verslegtende toestand in baie dele van die land strenger maatreëls vir die algemene bevolking tot gevolg sal hê.

Die verwagting is dat die president die land binnekort oor die nuwe besluite sal inlig – hetsy vanaand of later in die week. Geen amptelike aankondiging van die owerheid oor enige presidensiële boodskap vir vanaand is tot dusver ontvang nie.

Na wat Maroela Media verneem is strenger maatreëls beslis op pad omdat hospitale besig is om selfs in die goed bestuurde Wes-Kaap oorvol te raak van al die Covid-19-gevalle, met gesondheidspersoneel wat afgemat raak.

Die verwagting is dus dat enige nuwe maatreëls veral ten doel sal hê om die druk op hospitale te verlig deur die pasiënte en gevalle wat om ander redes as Covid-19 by hospitale aandoen, tot die minimum te beperk.

Dit sou byvoorbeeld die uitstel van alle nie-noodsaaklike operasies en prosedures kon insluit. In die verlede het beperkings op die verkoop en gebruik van alkohol ‘n enorme vermindering in die las op hospitale se ongevalle-afdelings tot gevolg gehad, hoewel dit nie tans duidelik is of sulke alkohol-beperkings nou weer oorweeg word nie.

Die huidige pandemie-getalle is sorgwekkend. Teen agtuur vanoggend was die totale hoeveelheid Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap sedert die uitbreek van die pandemie op
194 174, met die sterftesyfer op 6 162. Daar is tans 36 779 aktiewe Covid-19-gevalle, met 4 235 nuwe gevalle wat die voorafgaande 24 uur aangemeld is.

Covid-19-gevalle is die afgelope twee dae besig om in al die land se distriksrade stewig toe te neem – selfs in die Tuinroete, waar daar die afgelope tyd ‘n mooi afname was.

Kommer neem toe oor die impak van die pandemie op gesondheidswerkers. Die afgelope week het 206 gesondheidswerkers Covid-19 opgedoen, en daar is tans 581 gesondheidswerkers buite aksie omdat hulle positief getoets het en moet isoleer.

Opsommenderwys is daar landwyd ‘n voortdurende styging in gevalle, hospitalisering en sterftes, met geen teken dat dit gaan afneem tot die tweede of derde week in Januarie nie.

Die mening in mediese en owerheidskringe is dat verdere maatreëls dus deur die president afgekondig sal moet word. Wat die aard daarvan sal wees, sal vanmiddag bespreek word, met verdere besluitnemingsvergaderings moontlik.

Wat die Wes-Kaap betref blyk dit asof inwoners oordeelkundig optree wat strand toe gaan betref. Die getal besoekers aan Kaapstad se strande was gister tussen 20% en 30% van die normale getal vir hierdie tyd van die jaar.

In die Kaapse metropool raak die situasie by staatshospitale taaier. Khayelitsha-hospitaal se situasie word tans vererger deur ‘n massiewe toeloop van trauma-pasiënte. Druk op die Mitchells Plain-hospitaal en die Karl Bremer-hospitaal in Bellville het die afgelope 36 uur ook baie toegeneem.

In hierdie verband word die publiek dringend versoek om nie hospitaal toe te gaan tensy dit werklik nodig is nie, en beslis nie vir mindere beserings of olikhede nie.

Die Tygerberg-hospitaal in Bellville is baie besig. Die kritiekesorg-afdeling is vol. By die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad is daar tans 236 Covid-19-pasiënte en stelsels is onder druk, maar funksionerend.

Wat die platteland betref is die grootste druk op die staatshospitale in die Paarl, Worcester, Swellendam en Caledon, sowel as die Otto du Plessis-hospitaal in Bredasdorp.

Sommige hospitale is besig om druk te begin ondervind wat die beskikbaarheid van suurstof betref. Dit sluit in Khayelitsha-hospitaal, Worcester-hospitaal, Karl Bremer-hospitaal in Bellville en Victoria-hospitaal in Wynberg.

Alle vrywilligers met die nodige opleiding word gevra om hulself beskikbaar te stel deur die Wes-Kaapse regering te kontak. Tans het 411 toepaslik opgeleide mediese vrywilligers reeds aangemeld om die Wes-Kaap se mense te help in hierdie stryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.