Strenger inperking oor Paasnaweek ‘sinneloos’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Kenners meen daar is hoegenaamd geen gevaartekens vir Covid-19 wat ’n strenger inperking oor die Paasnaweek regverdig nie. Organisasies het intussen by die regering gepleit om ter wille van ekonomiese herstel nie strenger inperkings oor Paasnaweek in te stel nie.

Ja, nog ’n golf Covid-19-infeksies is “onafwendbaar”, maar dit is in dié stadium steeds nie duidelik wanneer Suid-Afrika sy derde virusgolf sal beleef nie.

“Dit is iets wat ’n mens moet verwag, maar nie oor die volgende vier weke nie,” sê Piet Streicher, data-ontleder van die Suid-Afrikaanse organisasie Pandemics Data & Analytics, beter bekend as Panda.

Luidens berigte oorweeg die nasionale koronavirusbevelsraad dit glo om Suid-Afrika vanaf vlak 1 na vlak 2 van inperking oor die komende Paastyd te skuif. Dít terwyl daar geen wesenlike nasionale toename in Covid-19-gevalle is nie en die land se aantal Covid-19-hospitalisasies in werklikheid die laagste in tien maande is.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê Suid-Afrika het boonop tans die laagste getal aktiewe gevalle sedert Junie verlede jaar. “Ons is eintlik op die beste plek in ’n hele rukkie.”

Volgens Mulder sal ’n strenger inperking oor Paasfees dus “sinneloos” wees.

Mulder en Streicher gee albei toe dat sekere streke, waaronder Calvinia in die Noord-Kaap, onlangs weer opvlammings ervaar het. Skole in Calvinia is die afgelope twee weke gesluit en ʼn leser het aan Maroela Media gesê hulle is “bang om uit hul huise te gaan”, sou hulle in kontak met ʼn virusdraer kom.

Die opvlammings is egter “sporadies, van korte duur en geïsoleerd,” verduidelik Streicher.

Mulder kan ook nie sien dat die opvlammings ʼn volgehoue toename in gevalle en ’n impak op die nasionale syfers tot gevolg sal hê nie.

Reint Dykema, kennisbestuurder by AfriForum Navorsingsinstituut, sê die Noord-Kaap het nou die meeste nuwe gevalle en aktiewe gevalle per miljoen van die bevolking, aangesien dié provinsie tradisioneel eers na ander provinsies ’n effense toename in gevalle beleef. Dit is omdat die woongebiede hier verder uitmekaar is. Die Noord-Kaap beleef dus tans in der waarheid eers die gevolge van die tweede golf van die pandemie. Net so het die aantal nuwe gevalle in die Noord-Kaap in middel Januarie ʼn piek bereik, maar langer hoog gebly omdat die dorpe wyd verspreid is.

Groter provinsies soos die Wes-Kaap en Gauteng het nog geen opvlammings in die laaste twee maande beleef nie.

Streicher sê daar is twee dinge wat in dié stadium nog baie onvoorspelbaar is: Wanneer die derde virusgolf gaan kom en hoe groot dié golf gaan wees.

“Ons kan nie die moontlikheid uitskakel dat hy groter gaan wees [as die vorige twee golwe] nie. Die kanse is egter baie groter dat die derde golf kleiner as die tweede golf gaan wees.”

(Argieffoto: Unsplash)

Dít aangesien Suid-Afrikaners meer immuniteit teen die virus opgebou het. Hy verwys na sekere gemeenskappe in die Oos-Kaap waar 71% van inwoners reeds teenliggame teen Covid-19 ontwikkel het. Inwoners van dié gemeenskappe woon baie naby aan mekaar en hul omstandighede maak dit moeilik om te isoleer wanneer iemand siek word.

Streicher sê tussen 15% en 20% van inwoners van meer welgestelde gebiede het intussen reeds teenliggame opgebou. Hy sê die virus was baie aansteekliker tydens die tweede golf.

Indien die derde golf nog erger as die tweede golf is, moet die koronavirus dus nog dodeliker en aansteekliker word. “Dit is onwaarskynlik, aangesien daar wêreldwyd geen aanduiding van só ʼn tendens is nie.” Daar is nie in dié stadium nog ’n variant wat meer aansteeklik is as die bestaande variante nie.

Volgens Dykema beleef Suid-Afrika vandeesweek en moontlik nog volgende week relatief min nuwe gevalle voordat die syfers weer stelselmatig sal begin klim.

Hy voorspel dat die derde golf Suid-Afrika moontlik in die winter gaan tref, aangesien daar gewoonlik tot vier maande tussen virusgolwe verloop. Hy voorspel dat die volgende virusgolf teen Mei, Junie en Julie sal tref.

Streicher sê ook dit sal “waarskynlik in die winter” wees.

Streicher sê dit sal in dié stadium dus net onnodig paniek saai en “onverantwoordelik wees” indien ’n strenger inperking oor Paasnaweek ingestel word.

Mulder glo op sy beurt mense gaan hulle vorentoe nie meer steur aan werklike waarskuwings indien daar nou onnodig vrees onder Suid-Afrikaners ingeboesem word nie. Hy herinner ook daaraan dat strenger inperking nie ingestel moet word om die aantal nuwe gevalle te probeer beperk nie, maar eerder te verhoed dat hospitale oorweldig word met pasiënte.

“Is daar nou genoeg plek in ons hospitale? Ongetwyfeld, ja.”

Geen vlak 2, asseblief!

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Die Free Market Foundation (FMF) sê Paasnaweek is net wat klein ondernemings nodig het om hul  deure oop te hou aangesien dit gesluit was gedurende die feestyd in Desember en Januarie.

“In die gees van Menseregteweek, smeek ons die regering om terug te tree indien beplan word om Suid-Afrikaners weer in te hok,” sê Chris Hattingh, adjunkdirekteur van die FMF.

Die vakbond Uasa het intussen by dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gepleit om alle bedrywe toe te laat om voort te gaan, sou die regering wel besluit om strenger inperkings in te stel.

“Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is op sy hoogste ooit, en ons kan eenvoudig nie meer afdankings of tydelike produksievertragings bekostig nie,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Roebs ·

Eerste keer in jaar wat ek my mense gaan sien nou wil hulle weer alles toemaak regtig

Thom ·

Waar kom jy daaraan dat ” hulle ” alles wil toemaak ? Die klomp verkramptes gaan mekaar nou weer lekker opsweep ! ” Hulle ” gaan nou weer alles doen om witmense te verarm !

Karel Kobus Kruger ·

Dit hang af hoe wetsgehoorsaam jy is. As jy bereid is om dalk n paar wette te oortree, sal jy waarskynlik nog steeds jou mense kan sien. Soms moet n mens maar die breë weg bewandel om jou sin te kry.

Adri ·

Die statistiek word in elk geval so gemanipuleer en bekook dat ek niks glo van die golwe nie.

Anoniem ·

Dis alles net bespiegelings, aangejaag deur die media wat weer sensasie soek. Ek doen wat ek moet doen om veilig te bly, maar ek steur my geensins aan die regering oor wat hulle beplan of nie beplan nie. My lewe gaan voort met of sonder ‘n regering.

Johan ·

N eenvoudige waarskuwing sou genoeg gewees het…daar is of was nooit n krisus nie!

Jackie ·

As die gesonheids owerheid net hulle vinger uittrek en die vaksinering vlerke gee kan die probleem omseil word

Ghutty ·

Hou ons klein besighede aan die lewe asseblief!!! Hulle moes alreeds soveel opoffer.

Boris ·

Hierdie bevelsraad en hul raadgewers se kennis het nie hul gelyke nie – dat hulle nou presies sal weet dat die 3de golf Suid-Afrika oor paasnaweek gaan tref is prysenswaardig.

Johann ·

Die risiko dat die toeriste bedryf gaan geld maak en dalk weer op die been kom is te groot, ANC sal dit moet keer.

Corne123 ·

Die hele ding wereldwyd is n magspel!
As dit nie so is nie hoekom het regerings nog nie maskers taxvry gemaak nie asook hand indametmiddels? Want hulle maak geld daaruit.As dit regtig so erg is soos hulle dit wil uitmaak hoekom is die herstelkoers so hoog?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.