Strenger minimumvonnisse help nie teen verkragting, hoor parlement

hof-hamer

Argieffoto

Die veelgeroemde strenger minimumvonnisse in nuwe wetgewing wat deur die kabinet by die parlement ingedien is, gaan basies geen impak hê op die voorkoming van verkragting nie, het die parlement Woensdag gehoor.

Die geleentheid was kennersinsette tydens die wetskryfproses vir vier wette teen geweld teen vroue en kinders wat tans voor die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie dien, en waarvan die Wysigingswetsontwerp op Huishoudelike Geweld en die Wysigingswetsontwerp op Seksuele Oortredings die meeste bespreking en emosie uitlok.

Strenger minimumvonnisse in hierdie beoogde nuwe wetgewing is een van die aspekte wat hardste deur pres. Cyril Ramaphosa se regering uitgewys word as teken dat die regering huishoudelike en geslagsgeweld ernstiger opneem. Insette Woensdag deur Rape Crisis, Regslui vir Menseregte en akademici van die Universiteit van Johannesburg voor die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie, het egter getoon dat minimumvonnisse plaaslik en internasionaal nie veel invloed op die bekamping van verkragting of die afskrikking van geweldenaars en verkragters het nie.

Die korrekte syfers is dat slegs 8,6% van die tersaaklike klagtes vir minimumvonnisse in aanmerking kom, met meer as 91% van sake wat dus nie daardeur geraak word nie.

Die boodskap van die kenners was dat swaarder strawwe nie juis enige uitwerking het nie. Rape Crisis het aangevoer groter sukses met die aanvanklike ondersoekwerk deur die polisie sodat ’n sterker saakdossier daargestel sal kan word, is ’n belangrike eerste stap, asook meer suksesvolle vervolgings.

Wat die beter ondersoekwerk betref, meen sowel Rape Crisis as Regslui vir Menseregte dat gespesialiseerde ondersoekeenhede vir geslagsgeweld en spesifiek vir verkragtingsake ingestel moet word omdat dit gespesialiseerde vaardighede vereis.

Aanvanklik het Rape Crisis aangevoer die nasionale vervolgingsgesag se beleid dat slegs sake vervolg moet word waar daar ’n redelike kans op suksesvolle vervolging is, ’n groot rol speel in die feit dat daar die afgelope paar jaar ’n afname in die suksesvolle vervolging van verkragtingsklagte was.

Die DA-LP adv. Glynnis Breytenbach het egter uitgewys dat dit vir die slagoffer uiters ontstellend is om getuienis te gee en kruisondervra te word oor so ’n traumatiese gebeurtenis, en dat geen staatsaanklaer wat sy of haar sout werd is, onmenslik genoeg is om die slagoffer onnodig daardeur te sit nie. Vervolging – en die hele trauma van die hofsaak – vind dus net plaas as daar ’n redelike kans op skuldigbevinding is, wat nie altyd die geval is nie omdat die slagoffer dikwels die staat se enigste getuie is.

Na Breytenbach se uiteensetting het die kenners met haar saamgestem.

Rape Crisis, Regslui vir Menseregte en die Universiteit van Johannesburg het wel almal die strenger borgtogvoorwaardes verwelkom vir diegene wat van geslagsgeweld aangekla word, asook die strenger paroolvoorwaardes vir diegene wat daaraan skuldig bevind word.

Vroeër het ’n organisasie genaamd For SA aangevoer spirituele geweld moet weggelaat word uit die definisie van huishoudelike geweld.

Dit wou voorkom asof hul poging verband gehou het met geloofsbeoefening en die dissiplinering van kinders, maar dit het nie gelyk of daar veel aptyt by die meeste politici was vir hul argumente nie, en die akademici van die Universiteit van Johannesburg het hulle besonder sterk vir die behoud van spirituele geweld binne die wetgewing uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Die reg bank kan minimujm vonnisse ople vir enige kriminele saak tot hulle blou is in die gesig maar as oortreders net 50% hoef uit te dien om parool te kry, sal dit nooit die misdaad bekamp nie. As n verkragter 15 jaar kry moet hy 15 jaar sit dan sal hulle 2 keer dink.

jzjz05

Daar is net een straf wat die moorde en verkragting sal stop en dit is die doodstraf