Strenger wetgewing oor raskwotas eers gestuit

(Argieffoto)

Strenger wetgewing oor gelyke indiensneming is vir eers gestuit.

Heloïse Denner, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor arbeid, sê opposisiepartye wat nie met die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming saamgestem het nie, het Donderdag in ʼn gesamentlike poging die nasionale vergadering verlaat, met die gevolg dat die ANC nie ʼn kworum gehad het om die wet deur te voer nie.

Die voorgestelde wysigingswetsontwerp sal aan die minister van arbeid en indiensneming die mag gee om sektorale rasgebaseerde teikens te bepaal.

“Die VF Plus is ten sterkste gekant teen kosmetiese transformasieteikens en beperkende arbeidswetgewing wat sektorale teikens daarstel om transformasie op ʼn kunsmatige wyse tot nadeel van ekonomiese groei en werkskepping af te dwing,” sê Denner.

“Vrywillige voldoening aan billike indiensnemingsteikens deur privaatsektorwerkgewers sal ingevolge die wetwysiging nie meer van toepassing wees nie en strenger voldoening deur middel van sertifikate, soos deur die departement uitgereik, sal afgedwing word.”

‘Voorhamer wat vernietig’

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, het in die parlement die wetgewing as ʼn “voorhamer wat werk vernietig” bestempel en sê dit word gebruik om die “rasbehepte regerende party” gelukkig te hou. Die party staan ook die wetgewing teen.

“Hierdie nuwe bepaling verleen aan die minister ’n stel arbitrêre en diskresionêre magte wat heeltemal onversoenbaar is met die dryfvere van ’n markgebaseerde ekonomie. Daar is ’n eenvoudige woord vir rigiede rassedoelwitte wat deur die minister bepaal word, wat na onbehoorlike konsultasie op werkgewers forseer word en waarvan die afwyking strafbaar is.

“Dit is kwotas.”

Cardo sê voortaan sal staatskontrakte ingevolge die wetgewing slegs toegeken word aan werkgewers wat in besit is van ’n sertifikaat wat aandui dat die maatskappy aan die kwotas voldoen en wat deur die minister uitgereik is.

“Natuurlik, om die sertifikaat te verkry, moet ’n werkgewer in die eerste plek aan die minister se sektorale doelwitte voldoen. Dit alles is ’n resep vir kwaadwillige ministeriële inmenging.”

Hy sê dit gee die minister volmag om uitgesoekte ondernemings met staatstenders te bevoordeel, “so reg uit die ANC-handboek”, terwyl dit na twee dekades van wetgewing oor billike indiensneming en swart ekonomiese bemagtiging duidelik is dat die wetgewende ankers van rasse-transformasie in werklikheid ’n vyeblaar vir kaderverryking is.

“Die ANC kyk na die hoogste vlak van bestuur in die private sektor – in teenstelling met die openbare sektor – en is verskrik oor hul gelaat. Daar is te veel wittes. Bruin mans sonder gestremdhede word hier oorverteenwoordig, terwyl swart gestremde vroue onderverteenwoordig is.

Dan kom die ANC tot die gevolgtrekking dat die regering werkers moet rondskuif asof hulle pionne op ’n skaakbord is. Trouens, die ANC gaan ’n stap verder – dit poog om deur diktaat ’n heeltemal nuwe skaakbord te skep.

Cardo sê die ANC moet eerder ekonomiese geleenthede skep en vaardighede vermeerder met ʼn goeie onderwysstelsel.

Hierdie wetsontwerp sal ekonomiese verwoesting saai. Dit is wat gebeur as die staat dikteer wat in die ekonomie moet gebeur – politici gebruik ’n rasse-abakus en bepaal hoeveel boontjies elke ry moet hê en watter kleur hulle moet wees.

Denner sê ook dat die arbeidsmag tans oorgereguleer word en meen wetgewing soos die nasionale minimum loon, die uitbreiding van onbillike kollektiewe bedingingsooreenkomste en wetgewing soos dié oor gelyke indiensneming, is teenproduktief en struikelblokke vir werkskepping.

“Die beleid, tesame met ander mislukkings soos die land se onderwysstelsel, is besig om die ekonomie te vernietig en die meerderheid Suid-Afrikaners van die arbeidsmark uit te sluit.  Dit is soos ʼn pleister op ʼn gapende kopwond,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JohanR ·

Dit is al 27 jaar. Hoekom nie die beste persoon vir die posissie kies nie, maak nie saak of hy swart, wit, kleurling of Indier is nie? Hoopelik nie meer baie jaar dan het die ANC ge#Voertsak! Die NP het 40 jaar gehou. Kan ons asseblief hoop die ANC is ook in 2034, of nog voor weg?

Althes ·

Dankie Here, aan U alle eer dat U die geveg saam met ons veg. Binnekort sal die ANC en EFF se mag heeltemal gebreek wees. IN JESUS NAAM, AMEN.
Ons sal nooit versoening hê as die Regering rasbehep is en dwase besluite neem nie. Hul sal op die oue einde soos grassade rondwaai en verdor.

Joggie ·

Hoop die wat gedink het Siril gaan verandering te weeg bring het agter gekom hy is van selfde ANC vere gemaak…

Dup ·

Die blanke en sy finansiële bydrae is lankal nie meer welkom in SA nie.Die ironie van die saak is egter dat die blanke die grootste persentasie van die belastings betaal.Rasgebaseerde wetgewing gaan SA uiteindelik kelder.

Charles ·

Al word elke liewe pos, vanaf grondvlak tot bestuur, tans gevul deur ‘n wit persoon aan ‘n AA/EE kader gegee, is daar steeds ‘n tekort aan miljoene poste vir die res van die AA/EE kaders.
Kyk eerder na maniere om die land se ekonomie te groei en werk te skep, sosiale afhanklikheid van die staat te verminder ens, maar nou ja, met korrupsie, nepotisme en gebrek aan logika is dit ‘n net ‘n stofwolk op die horison, soos die lugkastele gebou deur die Anc inmekaar tuimel.

Kortbroek en plakkies ·

Dit is absurd om te dink dat die beste kandidaat nie vir ‘n werk kwalifiseer as gevolg van ras en die magsbehep van die regering van die dag toon. Jong werksoekers waarvan my dogter een is het die kospotte van ander lande gaan opsoek en floreer daar. Dink net watse bydrae hulle tot ons land kon lewer en werk kon skep vir die meerderheid van die agtergeblewens wat in 27 jaar nog nie vooruit kon beweeg nie, en hulle self ook nie bekwaam om die werkersmark te betree nie. Nee wat kom ons gee eerder toelaes wat ons land in elk geval nie kan bekostig nie. een van die dae gaan die fonteintjie ook nog opdroog en wat dan?

Herman L ·

As die staat so behep is met transformasie, hoekom nie eerder aansporings gee vir maatskappye wat transformasie bevorder nie?

Blikkies ·

Hoekom kan al die ander partye nie maar saamstaan vir eens en die ANCancer uit die stoel lig nie. Hulle kan daarna hulle eie verskille oplos.

Ben ·

Onder andere omdat hul politiek korrek wil wees bi nne die huidige bedeling.
Interessant dat die DA darem minder probleem is as onder patetiese Maimane.
Die berig vertel niks oor EFF se rol hierin nie.
Hul is ANC in vermomming, maar druk meestal ANC om selfs meer onnooslik op te tree soos met “EWC” en onteiening gewettigde diefstal. (Voirspelbaar en ewe korrup en ewe suksesvol as Zuma om daarmee weg te kom……

Nie Verbaas ·

BEE werk doodeenvoudig nie. Die groter meerderheid sit in poste waarvoor hulle totaal en al onbevoeg is met groot salarisse en van dienslewering het hulle geen idee nie.

christo ·

Neuk voort Ramaphosa, jou onbeheerbare ANC, waarvan jy net die leier in naam is voeter die ekonomie net verder op. Kleinsake ondernemings is die werkskeppers maar al jou affirmative action een BBBEE maak groei onmoontlik. Daar kon lankal meer werk geskep gewees het, maar onbekostigbare minimumlone en al die reëls in die werkplek maak dit meer sin om ‘n masjien in diens te neem as ‘n werker. Ek dink daar is menige besighede wat ‘n robot sou wou gebruik in plaas van ‘n {gereguleerde werker indien een beskikbaar sou wees. Hoekom koop boere liewer reuse plaasmasjiene aan wat net een operateur nodig het??? Dit maak ‘n rits werkers, met al die ekstra drama, onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.