Strokies, knap speurwerk gee deurbraak in moordsaak

Kapt. Jorrie Jordaan en kapt. Francois Kruger se knap speurwerk het tot die uitkenning van ‘n moordslagoffer gelei. (Foto: Verskaf)

Die Palm Ridge-streekhof het vandeesweek gehoor dat kontantstrokies, in twee plastieksakke vol bebloede handdoeke, twee knap polisiespeurders in Augustus 2020 gehelp het om die liggaam van ʼn moordslagoffer vinnig uit te ken.

Die vermoede was dat die bebloede handdoeke moontlik verband hou met ‘n verbrande liggaam wat enkele dae tevore in dieselfde omgewing as die plastieksakke gevind is. Speurders van De Deur, Gauteng, kon die liggaam uitken as dié van Lynette Mustapha en het só nog ʼn deurbraak gemaak in die ondersoek na die moord op die Britse burger Hari Nathvani.

Kapt. Francois Kruger het Donderdag getuig in die verhoor van die 61-jarige Zaheera Boomgaard van Randburg wat tereg staan op drie aanklagte van moord en meer as 50 aanklagte van roof, diefstal en bedrog.

Kruger het aan die hof gesê dat hy en ‘n kollega, kapt. Jorrie Jordaan, hulle na die betrokke Pick n Pay-tak in Norwood gehaas het om te probeer vasstel wie die aankope op die strokies in die plastieksakke gemaak het. Die strokies het die tyd en datum asook die spesifieke betaalpunt in die winkel aangedui en die twee speurders kon só beeldmateriaal van ‘n vrou bekom waar sy besig was om vir haar inkopies te betaal.

Jordaan het Vrydag aan die hof vertel dat hy op die beeldmateriaal kon sien dat die vrou dieselfde sandale gedra het as dié wat aan die slagoffer se voete was.

Lynette Mustapha (72) was na bewering een van Zaheera Boomgaard se slagoffers.

Die strokies het verder gewys dat ‘n Pick n Pay Smart Shopper-kaart gebruik is om lojaliteitspunte met die aankope te verdien en volgens die winkel se rekords was die eienaar van die kaart ene Tony Mustapha van ‘n adres in Highlands North. Jordaan en Kruger, gewapen met die kringtelevisiebeeldmateriaal, is toe na dié adres, waar hulle meegedeel is dat Tony Mustapha oorlede is. Iemand by die adres het egter die vrou in die video uitgeken as Tony se suster, Lynette Mustapha, en kon haar adres aan die speurders verskaf.

By die tweede adres was alles gesluit en Kruger en Jordaan het ‘n nota met hul kontakbesonderhede op die hek gelos. Die hof het vroeër gehoor dat Mustapha se tuinier, Christopher Chidimba, die nota gevind het en ‘n buurvrou, Mirka Yptis, het die Norwood-polisie van die nota laat weet omdat sy Mustapha toe reeds daar as vermis aangemeld het.

Jordaan het getuig hy en Kruger is vir ‘n tweede keer na die huis, nadat hulle ingelig is dat Mustapha vermis word. By Mustapha se huis het ʼn motor in die oprit gestaan en die vrou agter die stuurwiel het haarself as “Zaheera” voorgestel.

Sy en Yptis het die vrou in die video ook uitgeken as Lynette Mustapha en die liggaam van die verbrande slagoffer kon só geïdentifiseer word. Op ‘n vraag van die speurders het Boomgaard gesê sy ken Mustapha deur hul kerk. Die tuinier het later aan die speurders gesê dat Boomgaard in besit was van Mustapha se bankkaart omdat sy hom moes betaal terwyl sy werkgewer uitstedig was.

Die saak is tot 18 Julie uitgestel wanneer dit in die hooggeregshof in Pretoria voortgesit sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Hartverskeurend dat sy moes boet met haar lewe vir hierdie sinnelose hekse jag van misdadigers.
Uitstekende werk Kapt. Jorrie Jordaan en kapt. Francois Kruger, ons land het baie meer van jul nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.