Stroomstap kan DStv duur te staan kom

(Argieffoto: DStv)

DStv se besluit om sy intekenaars vanaf 22 Maart in te perk deur stroming op net een toestel op ’n slag toe te laat, is dalk op die oog af binne sy regte, maar dit beteken allermins nie dat dit hom van ’n potensiële hofgeding vrywaar nie.

Volgens Chanique Rautenbach, prokureur by Barnard Ingelyf Prokureurs in Pretoria, is die eensydige verandering in DStv se kontrakte dalk nie onder normale omstandighede toelaatbaar nie, maar DStv het ’n klousule in sy aanlyn bepalings en voorwaardes wat bepaal dat die klant gebonde sal wees aan wysigings soos wat dit van tyd tot tyd geïmplementeer word.

“Hoewel sulke klousules wettig is, kan dit egter in die howe bevraagteken word. Daar kan aangevoer word dat die aanlyn bepalings en voorwaardes waartoe intekenaars ten tyde van aansluiting ingestem het, as bindend beskou moet word, en dat enige veranderings wat later aangebring word, opnuut instemming sou vereis,” sê sy.

Gegewe die al strawwer (en goedkoper) mededinging in die stromingsektor en intekenaars wat kommentaarkolomme aan die brand gons, kan dié stap DStv se handelsmerk én inkomste moontlik meer skade aandoen as wat hy in dié stadium kan bekostig.

Ofskoon die aantal toestelle wat vir stroming geregistreer kan word, steeds vier is, kan Pa nie meer sy rugby in vrede in die sitkamer stroom terwyl Ma tegelykertyd die beseringstydepisodes van Getroud met Rugby (dié sepie eindig in September) in die slaapkamer stroom nie. Jy kan wel voorheen afgelaaide inhoud op ’n tweede toestel kyk of op tot drie dekodeerders wat aan dieselfde intekening met XtraView gekoppel is.

Nyiko Shiburi, uitvoerende hoof van MultiChoice Suid-Afrika, het vroeër aan My Broadband gesê hulle verstaan dat sommige van hul klante dalk nie met hierdie verandering tevrede is nie.

Volgens Shiburi is die maatreëls daarop gemik om gelyktydige stroming te beperk in die lig van die wydverspreide deel van wagwoorde en roofkyk waarmee stroomdienste wêreldwyd te kampe het. “Dit het nie net ’n vernietigende uitwerking op die groei van die vermaaklikheidsbedryf nie, maar die Suid-Afrikaanse ekonomie in die geheel.”

“Dom plan,” het Maroela Media-leser Robert laat hoor, terwyl Vonkprop bygevoeg het dat DStv se eindelose herhaling van programme (teen ’n stewige maandelikse premie) ’n kool is wat eenvoudig nie meer die stromingsous werd is nie.

Benewens moontlike regstappe as gevolg van die beperking in gelyktydige DStv-stroming, blyk aansienlike skade aan sy handelsmerk onvermydelik te wees. Verskeie DStv-intekenare het gesê hulle sal hul subskripsie kanselleer as hulle nie meer gelyktydig op verskeie toestelle kan stroom nie.

’n Deurlopende tema van aanlyn besprekings was dat “die verkeerde mense” gestraf word. “Net omdat ’n paar mense die diens misbruik, sit ons met ’n kreupeldiens wat ons steeds peperduur kos,” het een kommentator gesê.

Dit is juis DStv se terugloop op sy beloftespore – dat verskillende mense in dieselfde huishouding verskillende inhoud gelyktydig kan stroom – wat intekenaars warm onder die kraag het.

“Ek betaal vir die Premium-diens, wat beteken ek het geen dekodeerder of skottel nie. Om teen R829 per maand net op een toestel te mag stroom, is waansin. Ek sal vir seker kanselleer,” het ’n ander intekenaar opgemerk.

Netflix bied op sy beurt vier gelyktydige strome op sy topplan (Premium, R199 per maand), met twee gelyktydige strome beskikbaar op sy standaardplan (R159 per maand). Showmax, wat soos DStv deur MultiChoice besit word, beperk intekenare tot twee gelyktydige strome.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

VaalDonkie ·

Los hulle laat hulle hulself in beide voete skiet. DSTV is vir TE lank TE windgat.

VaalDonkie ·

Ek hoor. Maar niemand dreig my met tronkstraf as ek nie DSTV betaal nie, so hulle moet bietjie meer nederig raak teenoor hul intekenare.

B-Man ·

Jy kan dit van meeste semi-staatsinstellings sê. Eskom, SAL, Prasa, Transnet, Denel, Sanral….

Aai ·

Julle gaan onder soos die SAUK kan sonder dit lewe.Moet eet,drink en lewe op die stadium.

Marius ·

Almal moet hul subskripsies kanseleer en hulle vergoed sink. Die DSTV kwitansies op ‘n toebrooidjie proe maar goor…

VaalDonkie ·

Ek maak goed geld as programmeerder maar ek kon nog nooit R1000/maand vir DSTV rasionaliseer nie. Dis net nie die moeite werd teen daai prys nie. Ek sal eerder in ‘n kroeg loop sit en rugby kyk as ek rerig lus was. En ek gee nie om oor twintig verskillende realiteitsprogramme wat oor dieselfde ding gaan nie.

B-Man ·

Stem saam. En sekere kanale is slegs beskikbaar op premium (soos SS1 en KykNet). Maar sokker en mzanzi-twak is spotgoedkoop.

Jr ·

Dis presies wat hulle gedoen het met die vroee explorers. Alles belowe, Catchup and tape missed programs. Toe skielik boodskap op screen “your decoder is corrupted.” Tot vandag wil ek weet hoe het ek hom ge corrupt. Toe vra ek mense en dr Google en vind uit hy was so gemaak met die defect om jou te forseer om n nuwe een te koop. Maar as u kyk wie is die base en shareholders sal julle miskien meer verstaan.. CORRUPTION IN ANOTHER FORM

thejudge ·

Ag asb. In my huis loop “heel eerste” Explora (explorer btw is ‘n voertuig) van dag 1 af nog sterk. Geen probleme.

Piet ·

Ja. Het self van multichoice gehoor my decoder se assuransie het verval. Die unit gaan seker binnekort kalf.

Jacques ·

Het my DSTV al lankal terug gekanselleer. Beste belegging ooit. Het Netflix en kan self kies of ek herhalings wil kyk. Het openview dekodeerder gekry vir nou en dan se nuus. Kan sport stream. My hoëspoed internet plus Netflix kos minder as DSTV en word vir vele ander take gebruik. Koebaai DSTV.

Wielspore ·

DSTV is gebasseer op ons belasting stelsel, die top kleiner hoeveelheid intekenare subsidieer die meerderheid interenare. Ons tyd met DSTV staan einde se kant toe.

VaalDonkie ·

Ek onthou jy kon vir jare lank net KykNet op die Premium pakket kry. Dit was toe die enigste Afrikaanse kanaal op die diens.

Yolandie ·

Don’t worry don’t care. Julle herhalings is inelkgeval so afgesaag. Ons het julle nog op ons Kassie net tot einde Maart ta-ta.

Charmaine ·

Hulle begin nou soos Eskom word. Jy betaal peperduur vir n halwe diens. Gelukkig is DSTV
nie noodsaaklik soos elektrisiteit nie en ons het darem nog die keuse of ons van hulle dienste wil gebruik maak of nie.

Danny ·

Ons het al jare nie meer DSTV nie weens swak programme en dubbel uitsendings op al die kanale, ook berperking rakende Suid-Afrikaanse filmbedryf. Ek dink wel dit gaan sy kykers knou en drasties verminder.
Maar ‘each to their own’.. Almal sny op die einde hul eie kele af..

fs ·

ek het jare al nie meer DSTV – hopeloos te duur vir die gemors en herhalings – ek het openview and ek kyk rustig Netflix en showmax … hoop almal se ogies gaan oop met DSTV se manipulasie van die verbruikers!

Hennie ·

Het DSTV al 16 jaar gelede gekanselleer…. Intussen het die diens en kwaliteit vinnig agteruit gegaan.
Boetie of sussie in Dubai kan nou nie meer op pappie of mammie se rekening DSTV kyk nie….

LANA is ELANè ·

Wel ons het besluit om slegs oor te gaan na MY FAMILY CINEMA waar jy derduisende reekse en flieks oud en nuut kan kyk vir R50.00 pm.
DSTV is overated en die programme word oor en oor en oor en oor herhaal en dan wil hulle die intekenaars wat hulle oorhet penaliseer.

Losloper ·

Ek is ook op MY FAMILY CINEMA. Dit was die beste besluit wat ek ooit kon geneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.