‘Stroper’ byt polisie in poging om te ontsnap

Die perlemoen wat op beslag gelê is. (Foto: Facebook/ Overstrand-munisipaliteit)

ʼn Beweerde perlemoenstroper het Vrydag ʼn polisieman op die vinger gebyt in ʼn poging om inhegtenisneming te ontwyk.

Wetstoepassingsowerhede van Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap was op patrollie saam met lede van die polisie se K9-eenheid en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, toe hulle ʼn verdagte voertuig opmerk.

“Die grys enkelkajuitbakkie was op pad in ʼn stil straatjie in Bettysbaai, maar die bestuurder het skielik gestop en ʼn U-draai gemaak toe hy wetstoepassers gewaar,” het Lindile Ntsab, adjunkburgemeester van die Overstrand-munisipaliteit in ʼn verklaring gesê. “Die voertuig het weggejaag en beamptes het dit agternagesit tot in ʼn doodloopstraat. Die bestuurder het uitgespring en probeer weghardloop, maar beamptes het agter hom aangehardloop en hom gevang.”

Terwyl lede van die polisie die man in hegtenis geneem het, het hy hard op ʼn polisiebeampte se vinger gebyt.

“Wetstoepassers het 96 stuks perlemoen in die bakkie gekry en die bestuurder, bakkie én perlemoen is na die Kleinmond-polisiestasie geneem, waar ʼn saak van onwettige stropery teen hom ingedien is.”

Die polisieman is nie ernstig beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nicky ·

Gelukkig vir die polisie man het daai ou sekerlik nie voortande gehad nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.