‘Stroper’ in hof oor renosterhorings, vuurwapen

Die renosterhorings waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

ʼn Vermeende stroper wat in hegtenis geneem is nadat hy glo met renosterhorings en ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy besit betrap is, sal Vrydag in die Mogwase-landdroshof in Noordwes verskyn.

Arnelo Mhlanga (39) is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem en het verlede week sy eerste verskyning in die Madikwe-landdroshof gemaak.

Kapt. Aafje Botma, woordvoerder van die polisie, het gesê natuurbewaarders het verlede Maandag gesien hoe Mhlanga en twee ander verdagtes die Pilanesberg-natuurreservaat in ʼn Mazda-bakkie verlaat. Die natuurbewaarders het die voertuig agternagesit en ʼn jaagtog het ontstaan.

“Gedurende die jaagtog het die verdagtes by Silverkraal teen ʼn boomstomp gebots. Die polisie het daarna vinnig gereageer en Mhlanga is in hegtenis geneem. Die twee ander verdagtes kon egter daarin slaag om te voet te vlug,” het Botma gesê.

“By nadere ondersoek is ses renosterhorings, ʼn onwettige vuurwapen en ʼn byl in die voertuig gevind. ʼn Opvolgondersoek het die verdagte verbind met ʼn stropingsvoorval tussen 30 Junie en 1 Julie in die Pilanesberg-natuurreservaat.”

Mhlanga staan tereg op die onwettige besit van renosterhorings en onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tamboti ·

Hoekom word hy van onwettige jag, wilddiefstal, jag van beskermde/bedreigde spesie ook aangekla nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.