‘Stroper’ se oorskot op versoek van familie opgespoor

Argieffoto: Pixabay

Die Kruger Nasionale Park het bevestig ʼn vermeende stroper wat verlede week deur ʼn olifant in die wildtuin vertrap is, se oorskot is uit die wildtuin gebring om aan sy familie te oorhandig.

Isaac Phaahla, algemene bestuurder vir kommunikasie en bemarking, sê die man se oorskot is Donderdag ná ʼn uitgebreide soektog by die Krokodilbrug-gedeelte in die wildtuin gevind.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep vermeende stropers het Maandag die wildtuin binnegegaan toe ʼn olifant hulle aangeval en een van hulle vertrap het. Die polisie het vroeër gesê die oorledene se vermeende makkers beweer hulle het sy liggaam na die pad toe gedra sodat verbygangers dit die volgende dag sou vind. Hulle het hulself daarna uit die voete gemaak.

Phaahla sê die vermeende stroper se familie het vir Don English, die streeksbestuurder by Skukuza, Dinsdagaand geskakel om te versoek dat hul geliefde se oorskot gevind en aan hulle terugbesorg word sodat sy naasbestaandes afsluiting kan kry. English het onderneem dat die wildtuin alles in hul vermoë sal doen om die oorskot te vind.

“English het ʼn soekgeselskap op die been gebring om na die oorskot te soek. Veldwagters het te voet, tesame met lede van die Krugerwildtuin se lugvleuel, in die gebied gaan soek, maar kon weens swak lig nie die liggaam opspoor nie. Die soektog is Donderdagoggend hervat, na aanleiding van die inligting wat deur die oorledene se [drie] vermeende medepligtiges gegee is, nadat hulle die vorige aand in hegtenis geneem is,” het Phaahla verduidelik.

Hy sê die liggaam is daarna, met behulp van nóg veldwagters, opgespoor. “Tekens op die toneel dui daarop dat ʼn trop leeus die oorskot van die oorledene opgevreet het en net ʼn skedel en broek het oorgebly,” het hy gesê.

Glenn Phillips, besturende hoof van die Krugerwildtuin, het die soekgeselskap geloof wat gehelp het om die oorskot op te spoor en het ook sy medelye met die oorledene se familie betuig. “Om die Krugerwildtuin onwettig en te voet binne te gaan, is nie slim nie. Dit hou baie gevare in en hierdie voorval dien as bewys daarvan,” het Phillips gesê.

“Dit is baie hartseer om die dogters van die oorledene te sien rou oor die verlies van hul pa en nog erger, om so min van sy oorskot te kon terugbring.”

Die drie verdagtes in die saak het Vrydag in die Komatipoort-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, sameswering om te stroop, en betreding. Hulle sal weer op 12 April in dieselfde hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lunsriem ·

Ek wonder wie gaan die kostes dra van die soekgeselskap wat die oorskot van hierdie wrede dief moes herwin. Sekerlik nie die Parkeraad nie!

Alida ·

Dit is grusaam maar as hy by die huis gebly het was hy nou nog daar. Werk vir geld is die leuse.

Tino ·

Sien die leeus moes ook toe maar hulle trots in hul sake steek…

Mooi so diere, veg terug!

SjN ·

Al wat hul goed kan doen is versoek/demand, die familie moet dus verantwoordelik gehou word vir kostes aangegaan deur die soekgeselskap en betaal word alvorens oorskot oorhandig word, wat het hy daar gesoek?

hennie ·

My hart breuk vir dogters… die daad is verkeerd beslis. Ek dink aan dogters en hartseer om hul Vader te verloor

Basildon Bond ·

Hulle kon seker sommer die oorskot in ‘n koevert sit en pos?

Wilma ·

Ek sou beslis wou sien dat die ander verdagtes die selle pad moes volg. Vuilgoed moordenaars

Danie ·

Ekt glad nie simpatie vir die persoon nie hyt gekry wat hom toe kom, as dit nie gebeur het nie sou daar sekerlik ‘n dier daar onder gelei het soos ‘n olifant of renosters…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.