Stropers gevonnis ná oortredings in Skukuza

Die Skukuza ruskamp. (Foto: Kruger National Park)

Drie veroordeelde stropers is Woensdag vonnisse van onderskeidelik ses en agt jaar in die Skukuza-streekhof opgelê nadat hulle ses jaar gelede in die Krugerwildtuin by Skukuza betrap en in hegtenis geneem is.

Norman Mogane (45) en Clarence Ngomane (38) is elk tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis, terwyl Nkosana Ndlovu (33) ses jaar sal moet uitdien.

Hul medebeskuldigde, Lawrance Mnisi, het destyds reeds skuldig gepleit en is dienooreenkomstig gevonnis.

Die mans is in 2017 van verskeie stropingsverwante misdade aangekla en skuldig bevind.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, is die veroordeeldes skuldig bevind aan die onwettige besit van ’n vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, die besit van ’n vuurwapen om ’n misdaad te pleeg, die onwettige besit van ammunisie en sameswering om ’n misdaad te pleeg. Mogane en Ngomane is verder skuldig bevind aan die onwettige betreding van die Krugerwildtuin.

Nyuswa verduidelik dat veiligheidsbeamptes by die wildtuin se Skukuza-hek op 29 Julie 2017 ’n verdagte voertuig opgemerk het. Slegs die bestuurder was sigbaar. Dieselfde voertuig is ’n rukkie later weer opgemerk – dié keer met nog drie insittendes op die agterste sitplek.

Die voertuig is voorgekeer en die insittendes is ondervra. Slegs die bestuurder het ’n geldige permit gehad om in die wildtuin te wees.

Toe die voertuig deursoek is, het veiligheidsbeamptes op ’n jaggeweer en ammunisie afgekom.

Die beskuldigdes is gevolglik in hegtenis geneem. Drie van die vier het onskuldig gepleit. Die hof het hulle egter op grond van bewyse en ballistiese verslae skuldig bevind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oosieoos ·

Vonnis is hopeloos te min nie eers genoeg vir onwettige beit van wapens

Kabous ·

Ek stem hulle moes 30 jaar gekry het, hulle is more weer uit net om weer te stroop.

Kokerboom ·

Dis eenvoudige sake. Behoort binne paar maande opgelos te wees!
Ek stem volkome saam: Strawwe opgelê skrik boewe nie af. Verpligte gemeenskapsdien behoort deel te wees van straf

Papsak ·

Sluit hulle toe laat hulle leer om dit nie te doen nie en dit sal stop hulle kry te veel reg en kom weg met alles so maklik soos dit skrik wakker asb ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.