‘Stropers’ in hul spore gestuit in wildtuin

Argieffoto van renosters in die Krugerwildtuin (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Altesaam vyf vermeende renosterstropers is die afgelope naweek in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. ʼn Sesde verdagte is dood nadat ʼn olifant hom getrap het.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder vir die wildtuin, was veldwagters en die polisie se lugvleuel en honde-eenheid Saterdag op ʼn groep van drie vermeende stropers se spoor. Hulle kon daarin slaag om een van dié aan te keer en het op ʼn vuurwapen en byl beslag gelê.

Soos Maroela Media vroeër berig het, is een van die verdagtes deur ʼn olifant doodgetrap terwyl die derde verdagte daarin kon slaag om te vlug en steeds op vrye voet is.

Daar is Sondag tydens ʼn roetine-patrollie spore van nóg drie vermeende stropers in die wildtuin gevind. Hulle het dié verdagtes agternagesit en in hegtenis geneem. Daar is op ʼn jaggeweer, strooptoerusting en ammunisie beslag gelê.

Gareth Coleman, besturende direkteur van die wildtuin, sê dit was ’n suksesvolle naweek in hul stryd om renosterstropery te bekamp.

“Ons is verheug oor ons teenstropingspanne wat die verdagtes kon vastrek voordat enige dier doodgemaak is,” sê Coleman.

“Ons hoop hierdie inhegtenisnemings sal ʼn sterk boodskap aan stropers uitstuur dat ons toegewyd is om hulle in hul spore te stuit.

“SANParke is daartoe verbind om saam met wetstoepassingsagentskappe en gemeenskappe buite die park te werk om die planne van sindikate wat agter hierdie misdade sit, te fnuik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Realis Thailand ·

Moet nooit vra waar is die renoster stropers toe daar nog veldwagters in die wildtuin was wie die werk geken het
Die krokodille was toe ook heel vetter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.