Stropers kry 16 jaar agter tralies

‘n Wildbewaarder in die Krugerwildtuin. (Argieffoto: Stefan Heunis/AFP)

Twee renosterstropers wat in Februarie in die Krugerwildtuin voorgekeer is, is maande later 16 jaar tronkstraf opgelê.

Die stropers, Jordan Samuel Mathonsi en Gorge Masangu, albei Mosambiekers, is Vrydag in die Skukuza-streekhof gevonnis, nadat hulle skuldig gepleit het op ses aanklagte, waaronder die jag van ʼn renoster, besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie, asook onwettige immigrasie.

ʼn Derde vermeende stroper het egter die betrokke dag in Februarie wetstoepassers ontduik en terug na Mosambiek gevlug.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het wildbewaarders van Laer-Sabi en Krokodilbrug op 24 Februarie gereageer op inligting dat gesien is hoe drie gewapende verdagtes die internasionale grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek in die Krugerwildtuin oorsteek.

ʼn Skoot is afgevuur en die veldwagters het op die drie verdagtes afgekom. Een van hulle is in die linkerhand gewond. Hy en nog een van sy makkers is in hegtenis geneem, terwyl die derde een ontsnap het.

“ʼn Jaggeweer, ammunisie en twee vars renosterhorings is in hul besit gevind. Die onthoringde renosters is ʼn ent weg naby die Krokodilbrug aangetref en die horings kon met die gestroopte renosters verbind word,” het Mohlala gesê.

Die polisiekommissaris in Mpumalanga het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pietertjie ·

En nou word hulle, totdat hulle op parool vrygelaat word, deur belastingbetalers van kos en veilige blyplek voorsien. Wat ‘n siek wêreld.

Pietvdpaarl ·

Welgedaan. Vang nou asb die stropers se baas en dan húlle baas. Dankie

Sarel ·

16 jr…lekker SA.
Die Regstelsel neem blykbasr nie Stropery van Renosters ernstig op nie

SjN ·

Doen dieselfde aan hulle as wat hul aan die renosters gedoen het.

Waarnemer ·

16 jaar?en oor drie maande speel hulle gholf saam met jakop en shabir.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.