Stropers maai onder Namibië se renosters

Besoekers aan die Halali-kamp in die Etosha-park verkyk hulle aan ‘n renoster. (Foto: Etosha Nasionale Park)

Die stropery van olifante in Namibië het verlede jaar ʼn voortgesette daling getoon, maar groot kommer bestaan oor die stropery van renosters wat bykans verdubbel het.

Altesame 87 renosters is verlede jaar in Namibië gestroop, het die Namibiese departement van omgewing, bosbou en toerisme Dinsdag gesê. Hiervan was 61 swartrenosters en 26 witrenosters.

Die syfer is ʼn styging van 93% van ʼn jaar tevore.

Die gestroopte renosters sluit in 15 op gemeenskapsgebaseerde plase, nog 25 op private plase en 46 in die wêreldbekende Etosha Nasionale Park. Die park is ʼn trekpleister vir duisende internasionale toeriste en word beskou as Namibië se voorste bewaringsgebied.

Luidens die departement se syfers is 45 renosters in 2021 in Namibië gestroop, in 2020 het die syfer op 43 gestaan, in 2019 is 61 renosters gestroop, in 2018 is 84 renosters gestroop en in 2017 het die syfer op 55 gestaan.

Daar is vanjaar boonop reeds een renoster in die Etosha-park afgemaai.

“Ons neem met kommer kennis dat ons vlagskippark, die Etosha Nasionale Park, ʼn stropery-brandpunt is,” sê Romeo Muyunda, woordvoerder van die departement.

“Die departement en sy vennote in wildlewebeskerming en wetstoepassing sal pogings teen die bekamping van wildlewe-misdaad in die park verskerp, veral om renosterstropery te bekamp,” sê hy.

Danksy die verstommende wildlewe is fotografie-safari’s veral gewild in die Etosha-park. (Foto: Etosha Nasionale Park)

Olifantstropery het minstens ʼn skerp daling getoon. Vier olifante is verlede jaar in Namibië gestroop, ʼn aansienlike afname van die 101 wat in 2015 afgemaai is. Hierna het ʼn voortgesette daling gevolg: in 2017 is 50 olifante gestroop, in 2018 nog 27, altesame 13 in 2019, nog 12 in 2020 en 10 olifante is in 2021 gestroop.

Namibië se toerismebedryf steun swaar op sy bekende wildlewe en die misdaad bedreig nie net die oorlewing van die spesie nie, maar berokken ook die aansien van die land skade wat betref sy bewaringsprogramme, sosio-ekonomiese en toerismeontwikkeling.

“Die renosterstropery-situasie vereis die betrokkenheid van alle belanghebbendes. Mense moet vermeende oortreders by die owerhede aanmeld. Die oortreders bly in ons midde.

“Ons moet as ʼn land saamstaan teen die onwettige plundering van ons natuurlike hulpbronne deur enige wildlewemisdaad in ons pragtige land te verwerp en te veroordeel,” sê Muyunda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.