‘Stropers’ met NW-boere se hulp aangekeer

Argieffoto.

Argieffoto.

Dit is grootliks te danke aan die boeregemeenskap van Tosca in Noordwes dat drie vermeende renosterstropers en hul informant Dinsdagaand op ʼn wildsplaas in die omgewing vasgetrek is.

Volgens ʼn ingeligte bron wat op die toneel was het twee voormanne op die wildsplaas hul bure omstreeks 15:00 in kennis gestel dat hulle vier mans, waarvan een glo met ʼn .375-jaggeweer gewapen was, naby ʼn dig bebosde gebied waargeneem het.

“Die voormanne was besig met patrolliewerk toe hulle die mans opgemerk het. Die mans het in die digte bos ʼn skuiling ingerig en ons vermoed hulle bly al ʼn lang ruk daar,” het die bron, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisasie, Donderdag aan Maroela Media gesê. Die bron boer op ʼn plaas wat aan die wildsplaas grens waar die vier verdagtes aangekeer is.

“Ons het nie dadelik geweet of die verdagtes plaasaanvallers of stropers was nie en het boere in die gemeenskap op ons plaaslike WhatsApp-groep versoek om te kom help soek na hulle. Binne etlike minute was verskeie boere en plaaswerkers in die gebied om na die groep te soek.”

Volgens die bron is die Bray-polisie gebel, maar kon hulle nie reageer nie aangesien hulle glo nie ʼn voertuig beskikbaar gehad het nie. “Die Bray-polisie het ons na die Boshoek-polisie verwys. Die Boshoek-polisie het óók nie ʼn voertuig gehad nie. Een van die boere het self na die stasie gery om ʼn polisiebeampte te gaan oplaai sodat daar darem ʼn beampte op die toneel was.”

Ná ʼn uitgebreide soektog en nadat van die boere die verdagtes se kampplek omsingel het, is die eerste verdagte omstreeks 16:00 deur ʼn boer en plaaswerkers vasgetrek.

“Die Vryburg-polisie se honde-eenheid het omstreeks 17:00 op die wildsplaas opgedaag. Een van hul honde het kort  daarna ʼn verdagte uitgesnuffel wat in ʼn vlakvarkgat weggekruip het.”

Die bron het gesê dit het begin donker word en voor die soektog na die oorblywende twee verdagtes weens swak lig afgelas sou word, het twee plaaswerkers dit goedgedink om by ʼn waterpunt te gaan wag aangesien hulle vermoed het die verdagtes toe al baie dors was en daarheen sou gaan. Hulle vermoede was reg en die derde verdagte is daar vasgetrek.

Die vierde verdagte, wat glo die gebied baie goed ken, kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek. “Die vierde verdagte wat die polisie in hegtenis geneem het is glo die stropers se informant en hy bly glo op die betrokke wildsplaas.”

Die polisie het ná die inhegtenisnemings beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie, ʼn byl en ʼn saag.

Die verdagtes verskyn Vrydag in die Morokweng-landdroshof op aanklagte van betreding, die rig van ʼn vuurwapen en poging om ʼn renoster te stroop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Wel gedaan manne, julle het dit presies reg gedoen. Net jammer Bray en Boshoek se polisie voertuie word net gebruik om shopping op Vryburg te gaan doen.

Willie ·

Maroela julle moes nie eers genoem het min of meer waar die bron van inligting woon nie, kom ons gee sulke bronne al die beskerming wat ons kan dan sal daar dalk meer na vore kom. Welgedaan aan almal wat betrokke was.

Johannes Meintjes ·

Terwyl misdaad in SA steeds toeneem, hetsy a.g.v. die krimpende ekonomie, swak regering of politiese opstokery, is dit verblydend om te sien dat burgelike paraatheid besig is om toe te neem op ge-organiseerde en wettige wyse. Lank leef buurtwagte!

CHRISTA ·

Ek is so bly om te sien dat boere EN plaaswerkers SAAM opgedaag het om die stropers te vang!!! Dit bewys weer eens wat vermag kan word as ons ALMAL saamstaan TEEN misdaad!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.