Stropers ry aan die pen

Cossamo Chauke (Foto: SAPD Mpumalanga)

Die polisiekommissaris in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, is verheug oor vonnisse wat stropers die afgelope paar weke opgelê is en veral twee stropers wat Vrydag afsonderlik gevonnis is.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê in een van die sake het Munandi Mathebula (42), in die Skukuza-streekhof verskyn in verband met stropery in die Krugerwildtuin.

“Die beskuldigde het op 19 Januarie 2015 die wildtuin saam met twee medepligtiges betree deur die Kingfisterspruit-gedeelte. Veldwagters het op dié dag vreemde voetspore opgemerk wat aangedui het dat minstens drie mense een van die paaie in die gebied oorgesteek het,” sê Mohlala.

ʼn Snuffelhond het hulle gehelp om twee van die drie betreders op te spoor en aan te keer. Die derde het ongelukkig spoorloos verdwyn. Die twee is uitgeken en een was Mathebula en die ander een was Eugene Malungane (36). “Die twee mans was in besit van ʼn .375-jaggeweer, patrone en ʼn byl.”

Die polisie in Skukuza het die twee mans in hegtenis geneem en die saak is ondersoek.

“Die twee mans is met hul verskyning in die hof vrygelaat op borgtog, maar hulle het versuim om vir hul volgende hofverskyning op te daag. Die hof het ʼn lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik en die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur.

Mathebula is op 28 Junie 2021 weer in hegtenis geneem en dié keer is sy aansoek om borgtog afgekeur. Sy medebeskuldigde se borgtog is weer toegestaan.

Mathebula het op 8 April 2022 skuld beken op alle aanklagte en hy is 13 jaar tronkstraf opgelê vir betreding in die Krugerwildtuin, sameswering om ʼn misdaad te pleeg, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die besit van ʼn gevaarlike wapen. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

In ʼn afsonderlike voorval is Cossamo Chauke (59) ook in die Skukuza-streekhof gevonnis nadat hy op 19 Januarie 2019 die Krugerwildtuin onwettig deur die Malalane-gedeelte betree het. “Veldwagters is in kennis gestel van ʼn betreder in die wildtuin toe hulle skote gehoor het. Hulle het ondersoek ingestel en Chauke aangekeer. Hy het ʼn hoë kaliber-jaggeweer in sy besit gehad asook ʼn byl en vars renosterhorings.”

Die karkas van ʼn groot renosterbul is gevind. Die bul is geskiet en sy horings is verwyder.

Nog drie renosters, waarvan twee gestroop is en ʼn derde ernstig gewond maar steeds lewendig was, is sowat ʼn kilometer verder gevind. Die derde renoster is uiteindelik van kant gemaak.

“Die polisie by Skukuza is in kennis gestel en Chauke is in hegtenis geneem. Die polisie het bepaal hy is in Mosambiek gebore en was onwettig in Suid-Afrika. Forensiese toetse het bevestig dat die jaggeweer in sy besit gebruik is om die renosters te skiet.”

Chauke het voor sy vonnisoplegging Vrydag skuld beken op alle aanklagte. Hy is 19 jaar tronkstraf opgelê vir betreding in die wildtuin, oortreding van die Immigrasiewet, die jag van beskermde diere in die wildtuin, die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tiptol ·

En dan wil die anc nog permitte uitgee vir die jag van ons renosters. Hulle word klaar gejag.

Johan ·

Ek is SO bly dat van hierdie oortreders suksesvol vervolg is. Ek is dankbaar vir die mense en instansies wat onverpoost agter die skerms aan die werk is om hierdie mense aan die kaak te stel en te vervolg.
Ten opsigte van die beriggewing oor Chauke; wat presies word bedoel met “hoë kaliber geweer”? Is dit nie eerder ‘ “groot kaliber” nie?

Di ·

Hierdie stropings en insypeling van onwettige immigrante in ons land sal nooit stop nie. Die onbevoegde regering moet pogings aanwend om ons “open borders” te beveilig. Het die berig “Musina; op die grens van Sodom en Gomorra” gelees op Maroela media en dit is skokkend om te sien hoeveel boere teenaan hierdie grense onder geweld en diefstal deurloop en ontvang GEEN hulp van die regering se kant af nie.

antieklimaks ·

Alle stropers wat gevang word se horings moet ook afgekap word. Dan sal voornemende stropers dalk 2 keer dink….

Dries ·

Parool word te maklik toegestaan, veral in hierdie gevalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.