Stropers skiet polisie wat na vermiste bootman soek

Die huisboot het Saterdag aan die brand geslaan. (Foto: Bathabile Ndawo/Facebook)

ʼn Bemanningslid word steeds vermis ná ʼn luukse huisboot Saterdag in die Jozinidam in KwaZulu-Natal aan die brand geslaan het. ʼn Polisiebeampte wat na Maxwell Nyawo (36) help soek het, is boonop Maandag deur een van drie vermeende stropers geskiet.

Maroela Media het Maandag berig altesaam nege mense, onder wie passasiers en bemanningslede, was genoop om oorboord te spring toe die huisboot Shayamanzi I in vlamme was.

Michael Mirschel (64), ʼn toeris van Duitsland, en Michael Phiri (51), wat as kok op die boot gewerk het, het in die proses verdrink. Polisiebeamptes van die Empangeni-soek-en-reddingspan soek sedert Saterdag na Nyawo.

Volgens kapt. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het die beamptes omstreeks 10:15 die dam gepatrolleer toe hulle drie mans teëgekom het. Die mans was glo stropers en die polisiebeamptes het hulle gekonfronteer.

“Een van die mans het ʼn skoot op die beamptes afgevuur en die koeël het een van die beamptes in die kakebeen getref,” bevestig Mbele.

Die gewonde beampte is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Die drie mans het gevlug.

“ʼn Saak van poging tot moord is by die Ingwavuma-polisiestasie aanhangig gemaak en die ondersoek duur voort.”

Die oorsaak van die brand op die boot word ook nog ondersoek.

Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, het haar innige medelye aan Mirschel en Phiri se families en vriende betuig.

“Ons sal die twee families ondersteun terwyl hulle tot verhaal kom,” sê die minister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Stropers is volop in daai gebeid en die gemeenskap vra al jare lank vir hulp. 98% van hulle is uitlanders en stroom oor die Mosambiekse grens. Dalk sal hulle nou meer ag slaan daarop as een van hul eie gewond is. Sterkte aan die beseerde SAP lid

gpsa ·

ANC het geen beheer oor die massas of die onwettige buitelanders nie. Hulle doen wat hulle wil en waneer hulle wil. Die polisie sal die situasie monitor en dis al.

petro ·

hierdie brande wat deesdae so ontstaan word moedswillig gestig

Kokerboom ·

Onverbiddelike optrede teen boewe en stropers nodig dat hul die boodskap kry. Polisie is sagte teikens met swak opleiding.
Gebruik ook weermag wat in barakke rondlê. Probleem is egter hul is ook onbetroubaar

Tanja ·

Dit gaan so in SA omdat ons land se grense oop is vir al diè kaders wat maak soos hulle wil

Casper ·

1 Was daar nie ‘n reddingsboot saam gespeel nie soos wat huisbote maar moet doen.
2 Waar was die veiligheidsbaadjies wat verpligtende is om te dra.
3 Was die stropery op die kant,en die polisie ook of was hulle op die water.
4 Daar is gewoonlik swaar gewapende wagte wat daar patrolleer,waar was hulle.Die polisie skiet nie terug nie.
5 Daardie boot is aan die brand gesteek.

Casper ·

Dit lyk of die boot in die omgewing van die Nkonkoni wildreservaat was..

Johann ·

Dis darm net té veel “brande” wat so skielik orals gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.